MOSSELBAAI NUUS - Schalk en Rina Burger het op 16 April hul 60ste huweliksherdenking gevier, ’n merkwaardige mylpaal wat getuig van ses dekades se liefde, toewyding en samehorigheid.
Beide Schalk en Rina is in Carnarvon gebore en het gedurende die vroeë jare van hul huwelik gereeld oor die land verhuis.
In 2004 het hulle egter besluit om hulself in Klein-Brakrivier te vestig, waar hulle tot 2020 gewoon het. Vandag geniet hulle hul aftrede in ’n aftreeoord in Hartenbos.
Albei se gesondheid is steeds uitstekend en hulle bly aktief by hul gemeenskap betrokke. Hulle is bekend vir hul vriendelikheid, wysheid en die opregte belangstelling wat hulle in ander mense toon.
Die Burgers se familie is hul grootste trots. Hulle is geseën met vier kinders, nege kleinkinders en vier agterkleinkinders.
Vir hul familie is Schalk en Rina ’n bron van inspirasie - hul daaglikse voorbeeld van liefde, opoffering en wedersydse respek dien as rigtingwyser vir die volgende geslagte.
“Ons kan skaars in woorde uitdruk hoe dankbaar ons vir sulke wonderlike ouers is,” sê hul kinders.
“Hul liefde vir mekaar en vir ons is ’n inspirasie vir ons almal.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’