GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die eerste fase van opknappingswerk aan die Groot-Brakrivier-polisiestasie is voltooi.
Die stasie, in samewerking met die GPF en plaaslike buurtwagte, het hierdie week trots die voltooiing van dié fase aangekondig.
“Hierdie belangrike mylpaal het nie net die voorkoms van ons polisieterrein verbeter nie, maar ook die gemeenskapsamewerking versterk,” sê die GPF.
Tydens hierdie fase is puin verwyder, nuwe gras geplant en die terrein het ’n vars, verwelkomende voorkoms gekry. Die toegewyde betrokkenheid van paroolgangers asook inwoners wat gemeenskapsdiens moet doen (onder toesig van GPF- en buurtwaglede), het ’n groot rol gespeel om te verseker dat die werk veilig en doeltreffend voltooi is.
GPF-voorsitter Jacky Carsten sê hierdie prestasie sou nie moontlik gewees het sonder die ruim bydraes van die gemeenskap nie.
“’n Hartlike dankie aan almal wat gras, plante en ander hulpbronne geskenk het. ’n Spesiale woord van dank aan die tuinondernemings wat hul tyd en toerusting beskikbaar gestel het om die terrein netjies te sny en voor te berei.”
Sy het ook die ondernemings wat die opruiming ondersteun het bedank, asook vir buurtwaglid Janu Minnie: “Sy leuse, ‘Kom ons doen dit nou’, het deurgaans inspirasie en dryfkrag gegee.”
Stasiebevelvoerder kapt. Francois Henzen het ook die GPF, buurtwagte en betrokke organisasies hartlik bedank. “U ondersteuning word hoogs waardeer.”
Carsten sê vir fase twee beplan hulle om die stasie te verf. Hulle het reeds borge vir die verf gekry, maar versoek dat die gemeenskap hulp verleen met ander items.
Voorbereiding moet eers gedoen word voor hulle met die verwery kan wegtrek. Sy sê hulle het borge vir kwasse, verfrollers, skuurpapier en vulstof nodig.
Sou jy ’n skenking wou maak, kontak vir Carsten by 063 162 9345.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’