MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai het op Saterdag, 4 November, Blouvlag-status gevier, wat aan vyf van sy strande toegeken is.
Twee nuwe loodsterreine vir die volgende seisoen is ook bekend gestel.
Dié besondere vlaghysings-seremonie is by Santos-strand gehou.
Die Blouvlag is een van die wêreld se mees erkende vrywillige toekennings aan strande, marina's en volhoubare bootvaart-toerisme-operateurs.
Om vir die Blouvlag te kwalifiseer, moet 'n reeks streng omgewings-, opvoedkundige, veiligheids- en toeganklikheidskriteria nagekom en gehandhaaf word.
Gedurende Blouvlag-seisoen, word die volgende voordele by geselekteerde strande gebied:
- Sekuriteit
- Lewensredders
- Ablusiegeriewe
- Rolstoelvriendelike ablusiegeriewe
- Omgewingsopvoeding (datums sal op Blouvlag-borde bepaal word)
- Gereelde watergehalte monsterneming by die vyf strande.
Universele toegang
Die uitvoerende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé, het by die bekendstelling gesê: "Blouvlagstrande word ook ondersteun deur een van die raad se sleutel strategiese doelwitte. Dit is om universele toegang op Mosselbaai te bevorder. Onder die munisipaliteit se GROEI veiligheidspilaar, het ons 'n sterk fokus op die groei van 'n veiliger omgewing vir almal om in te woon, groei en verbetering van maatskaplike toestande, en groei en verbetering van toestande vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling en toerisme. Dit is een van die hoofdryfvere van ons plaaslike ekonomie.
"Dit sluit in die groei van 'n veilige omgewing vir mense van alle vermoëns en om te verseker dat ons deur universele toegang 'n positiewe sosiale omgewing bevorder."
Met die bekendstelling van die Blouvlag-seisoen in 2022, het die rolstoelvriendelike-inisiatief groot aandag getrek. Dit het persone met gestremdhede deur die implementering van 'n spesiale strandstoel die geleentheid gegee om by geselekteerde strande ook te kon deel in die pret wat die branders aan almal bied.
Sedert die bekendstelling van dié strandstoel, het verskeie gesinne die vreugde gehad om spesiale herinneringe te maak saam met geliefdes, wat nie sonder gespesialiseerde bystand 'n swem in die see kan geniet nie.
"Onder ons GROEI-bestuurspilaar, versnel ons ons munisipaliteit se universele toeganklikheid om te help met die skepping van 'n gesinsvriendelike dorp. Hoekom wil ons 'n meer toeganklike dorp beveilig en voorsien? Die rede is eenvoudig. Ons wil verbeter en beter lewenstandaarde bied. Ons wil vrywillige betrokkenheid en deelname deur alle mense in ons gemeenskap aanmoedig en laat groei."
Blouvlag-seisoen strek van 1 Desember tot 31 Januarie.
Rudi Minnie van die Mosselbaai-munisipaliteit se omgewingsdepartement hys die eerste Blouvlag terwyl raadslid Leon van Dyk toekyk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’