MOSSELBAAI NUUS - "Dit is met dankbaarheid en trots dat ek erkenning gee aan vroue en kinders in hierdie maand, Augustus 2017 wat allerweë as Vrouemaand bekend is," sê Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal op die vooraand van Vrouedag wat môre, Woensdag, 9 Augustus gehuldig sal word.
Al Mosselbaai se raadslede het reeds tydens die raadsvergadering op 27 Julie ‘n eed teen gesinsgeweld en mishandeling van vroue en kinders onderteken.
Hierdeur word steun aan vroue en kinders van Mosselbaai verseker.
Die burgemeester het Augustus tot 'Wit Strikkiemaand' verklaar om te wys dat Mosselbaai se munisipale leierskap en gemeenskap alle vorme van geweld, ongeag of dit fisies, emosioneel, finansieel en selfs seksueel van aard is, verwerp en sal teëwerk."
"Die verwysingsraamwerk waarmee vandag se jeug grootword dui daarop dat die gemeenskap se basiese norme en waardes nie meer so vas gewortel is soos in die dae van ons ouer geslag nie.
"Ek doen 'n ernstige beroep op alle vroue, die toonaangewers in gesinne met betrekking tot versorging, om toe te sien dat geordende gedragspatrone binne die huis en die samelewing gevestig word."
"Dit is so belangrik dat ons ouer vroue sal optree as mentor, as grootmoeder vir die jonger geslag en ook vir enkelouers. Terselfdertyd word gefokus op die leerkragte wat daagliks met môre se leiers werk."
"Onderwysers vervul die rol van 'n ouerfiguur tydens skooltyd. As raad erken ons die rol van alle vroue in Mosselbaai en die positiewe bydrae wat hul lewer."
"Ek gee graag erkenning aan die 'Women Power & Purpose'-forum van Mosselbaai, onder leiding van raadslid Venolea Fortuin vir die merkwaardige werk wat gedoen word om geslagsgelykheid te bevorder."
"Ek doen ‘n beroep op mans om verstandig en eerbiedig teenoor alle vroue op te tree. U optrede wys aan die jong seuns in ons gemeenskap hoe om vroue te hanteer. Reik uit na die jongmense in u straat, in u gemeenskap en tree op as ‘n mentor, want ons almal se doel is om rentmeesters vir die Allerhoogste te wees.
"Ek wil u dus bemoedig om vas te staan in jul geloof en om nog harder te werk aan opheffingsprogramme binne die onderskeie gemeenskappe om die sosiale en morele verval hok te slaan," aldus burgemeester Levendal.
ARTIKEL & FOTO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'