MOSSELBAAI NUUS - Twee dwergpotvisse, ook bekend as dwergspermwalvisse (Kogia previceps), het Donderdag, 6 Junie, by Diazstrand uitgespoel. Skoonmakers het die twee op die strand ontdek en hulp is ingeroep.
Die een was reeds dood en die ander een is nat gehou maar moes later, met toestemming en 'n permit van die departement van bosbou, visserye en omgewing, deur die polisie uitgesit word om hom nie te laat ly nie.
Personeel van die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) en van die Shark Research Institute was op die toneel.
Nico Booyens van die Shark Research Institute het aan die Mosselbaai Advertiser gesê dat hierdie diere swem vir 'n rede uit. "Hulle pleeg basies selfmoord en om hulle terug te plaas help nie. Hulle sal net weer uitswem," sê hy. "Nie een van hulle het fisiese tekens soos deur 'n boot getref getoon nie."
Personeel van die Shark Research Institute besig om die een dwergpotvis wat nog gelewe het, af te koel. Foto: Christiaan Stopforth
“Die beste is om hulle uit te sit aangesien hulle op land baie trauma beleef," sê Booyens.
Volgens Booyens word die monsters na dr. Gregg Hofmeyr by Bayworld, Port Elizabeth, gestuur vir verdere ondersoek waar bepaal sal word wat die oorsaak was waarom hulle uitgeswem het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’