DYSSELSDORP NUUS - Twee Dysselsdorpers, Jessica Malgas en Yolandi Kiewiets, is besig om naam te maak vir hulself met hul eie besigheid, Rethink Bags, wat hulle met behulp van hul "beskermengel", Mary Carr, begin het.
Die drie stuks het 'n besigheid in Dysselsdorp by Kolping House waar hulle inkopiesakke en ander items uit onder meer valskermmateriaal maak en die Oudtshoorn- en De Rust-toerismekantoor het onlangs 'n groot hoeveel valskerms aan hulle geskenk om hulle met die projek te help.
Volgens Corleen Barnard, bestuurder van die toerismekantoor, het sy eendag met Rose Bilbrough van Travel Bug wat valskerm spring gesels en het sy aan hulle genoem dat sy mense ken wat die valskerms kan gebruik vir hulle projek.
"Hulle het toe die valskerms, wat hulle nie meer gebruik nie, aan my gegee om aan die dames van Rethink Bags te skenk," verduidelik Barnard.
Volgens Carr was die skenking vir hulle baie spesiaal en is hulle baie opgewonde om die valskerms uitmekaar te begin haal om met hul nuwe projekte te begin.
Sy het aanvanklik die besigheid begin omdat sy 'n plastiekvrye lewe wou hê.
"Ek probeer om van so min plastiek as moontlik gebruik te maak en het my eie inkopiesakke begin maak. Ek het ook sommer sakkies waarin ek my groente kan weeg gemaak, sodat ek nie plastiek hoef te gebruik nie."
Die inkopiesakkies kan netjies in jou handsak opgevou word. Foto's: Liezl van Niekerk
Volgens haar het die idee vinnig gegroei en het sy probeer om die konsep te gebruik om jong dames te help om selfonderhoudend te word.
"Ek het Jessica en Yolandi geleer hoe om naaldwerk te doen en het die besigheid vyf jaar gelede aan hulle oorhandig. Ek is net hulle "guardian angel" en help hulle waar ek kan. Nie een van hulle kon naaldwerk doen nie, toe leer ek hulle."
Carr sê sy maak meeste van die tyd van valskermmateriaal gebruik omdat dit 'n baie sterk materiaal is wat nie maklik skeur nie, maar maak ook van ander afvalmateriaal gebruik.
Malgas sê hulle maak verskillende produkte met die materiaal.
Grimeersakkies wat deur Rethink Bags gemaak word.
"Ons ontrafel eers die hele valskerm - wat op sigself 'n groot werk is. Die materiaal word dan gewas. Ons gebruik alles wat ons kan. Elke toutjie, elke ringetjie, elke draadjie - alles. Elke item gaan sy werkie kry," verduidelik sy opgewonde.
Carr sê dat die dames haar maar vreemd aangestaar het aan die begin.
"Hoe meer items hulle gemaak het, hoe meer het hulle verbeelding begin groei en hoe meer het hulle idees geword. Ons het in die grendeltyd maskers ook gemaak. Ons maak die herwinbare inkopiesakke wat jy netjies in jou handsak kan bêre. Ons maak voorskote en rugsakke en ons het ook onlangs begin om vir gastehuise en ander besighede sakkies te maak waarop hulle hul besigheid se naam kan sit en dan as geskenke kan weggee. Ons begin ook deesdae bestellings inkry en het selfs 'n besigheid in die Kaap wat 1 000 sakkies wil hê."
Kiewiets sê hoewel die besigheid nog baie nuut is, en hulle nog elke dag nuwe goed leer, is hulle baie opgewonde oor waarheen hulle op pad is.
"Ons het soveel idees vir wat ons nog alles kan maak. Die vooruitsig van Rethink Bags maak my baie opgewonde."
Vir meer inligting kontak 072 248 4830.
Vorige artikel:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo-nuus'