MOSSELBAAI NUUS - Sistematies, een vir een word die dwelmhandelaars van die groter KwaNonqaba-polisie se bedieningsarea geteiken en uit die samelewing verwyder.
Die afgelope naweek het die misdaadvoorkomingseenheid onder aanvoering van ao JC Brink weer eens suksesse behaal in die stryd teen dwelmhandel toe by twee afsonderlike huise beslag gelê is op dwelms wat vooraf verpak en markgereed was.
By navraag het die KwaNonqaba-polisie bevestig dat persone wat in besit betrap word van dagga wat ooglopend vir verkope voorberei is, onder meer deur dit in netjies-afgemete hoeveelhede in sakkies te verpak, wel gearresteer en voor die hof gedaag kan word ongeag die onlangse hooggeregshofuitspraak wat die besit van dagga vir eie gebruik tuis gemagtig het.
"Die hoeveelheid en manier waarop die dwelms verpak is, mag 'n goeie aanduiding wees of die dwelms bestem was vir handel of eie gebruik," sê die KwaNonqaba-polisie se kommunikasiebeampte, sers Kapp.
Hy voeg by dat die polisie se verklaring van die omstandighede waarin die dwelms aangetref is ook deur die hof in aanmerking geneem word.
Hy het ao Brink en die span vir hul volgehoue fokus en deeglike ondersoekwerk wat tot die arrestasie van die twee buitelanders gelei het, bedank.
"Dagga en dwelms soos mandrax en tik gee dikwels aanleiding tot ander misdaad, veral wanneer dwelmafhanklike persone hulle tot diefstal en roof wend vir items wat maklik vir kontant verhandel kan word," sê sers Kapp.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'