MOSSELBAAI NUUS - Sommige inwoners van 21stelaan langs die Mosselbaai Gholfklub het onlangs na die Mossel Bay Advertiser uitgereik oor die hoeveelheid balle wat van die oefenbof (driving range) in hul erwe beland.
Een van die families woon al sedert 1994 daar en sê oor die jare het daar al duisende balle in hul erf beland.
Die balle land glo soms op dakke en motors en veroorsaak so skade. Dit is egter nie hul grootste bekommernis nie.
Wat hulle die meeste kwel is die veiligheid van veral hul kinders of kleinkinders wanneer hulle buite speel.
Daar is ook al vensters by van hul huise uitgeslaan.
Hulle meen daar was al in die verlede kommunikasie met die klub oor die kwessie, maar daar het nog nooit 'n oplossing gekom wat werk nie.
In gesprek met die koerant, het die bestuurder by die gholfklub, Graeme Viljoen, gesê die laaste ding wat hulle wil hê is dat iemand moet seerkry.
Die oefenbof by die Mosselbaai Gholfklub.
Die klub is egter al in 1906 gestig, wat beteken dit was daar lank voor die inwoners ingetrek het. En om naby 'n gholfbaan te bly, kom met sekere risiko's.
Viljoen sê egter hulle is nie doof vir die inwoners se bekommernisse nie.
Hy sê sy deur is altyd oop en dat die klub en inwoners om 'n tafel sal moet sit om 'n gesamentlike oplossing te kry - iets waar albei kante bydra, omdat die verantwoordelikheid nie slegs by die klub kan berus nie.
Daar is tans hoë nette opgerig wat van die balle keer, maar die inwoners sê dit is nie effektief nie aangesien die balle dikwels veel hoër trek, of die wind die houe beïnvloed.
Viljoen sê van hulle kant af probeer hulle aktiwiteite by die oefenbof beperk wanneer daar erge wind waai.
Een van die inwoners sê dié deel wat aan hul erf grens was nie altyd deel van die oefenbof nie, maar een van die gewone putjies.
Hy meen dit bring meer balle in sy erf in as wat die geval was toe dit net 'n gewone putjie was.
Die skuif van die oefenbof is egter, volgens die klub, nie 'n moontlikheid nie aangesien daar nie 'n ander gepaste area daarvoor is nie.
"Om dit toe te maak sal lei tot werksverlies en die afgradering van ons fasiliteit. 'n Groot netkonstruksie is moontlik die enigste werkbare opsie. maar die koste daarvan sal in die honderdduisende ingaan," sê Viljoen.