MOSSELBAAI NUUS - Na 41 jaar en 92 dae, hang adjudant-offiser Thinus Newman nou vir eers sy uniform op.
Nie net het hy op Vrydag, 29 Januarie sy laaste werksdag saam met kollegas gevier nie, maar ook sommer sy sestigste verjaarsdag.
Van 'n glasie vonkelwyn klink tydens die geselligheid by die Hartenbos Seefront was daar helaas nie sprake nie, aangesien die verslapping van die inperkingsmaatreëls eers op 2 Februarie van krag gekom het.
Newman is 'n boorling van Oudtshoorn en is na sy opleiding in die polisiekollege, opgeneem in die spesiale wageenheid. Hierdie eenheid het bestaan uit 'n groep uitgesoekte polisielede wat destyds die land se ministers "opgepas het".
Die eenheid was hoofsaaklik op landgoedere waar die ministers woonagtig was, ontplooi en het hulle 'n jaar tussen Pretoria en Kaapstad in die uitvoer van hulle pligte spandeer.
Van hierdie pligte het ook buitengewone wedervaringe ingesluit, soos toe Newman een van oud-minister Pik Botha se dogters se troukar bestuur het.
Na sy tydjie saam met die ministers, was hy op ondermeer Richmond, Middelburg (Oos-Kaap), asook Oudtshoorn gestasioneer.
In 1984, skuif hy na die Spoorwegpolisie in werk as deel van die ondersoekeenheid waar sy spoor tot sover as Langlaagte, Johannesburg loop. Hy werk hierna weer as speurder op Joubertina en help ook om tydens sy stasionering op Malelane 'n speurtak daar te vestig.
Eindelik loop sy pad weer terug na sy geboortedorp, Oudtshoorn waar hy as skofbevelvoerder werk. Hierdie pos beklee hy later ook op Mosselbaai.
Sy loopbaan in die polisie sluit hy af by die Da Gamaskop-polisiestasie waar hy die aangewese offisier en kantoorhoof vir die afdeling wat met tweedehandse handelaars werk.
Newman sê die polisie het hom geleer van vasbyt, om die opdragte wat jy kry uit te voer en om slegs jou beste te lewer in die uitvoer van jou pligte.
Sy toewying spreek vanself. Hy som dit só op: "Na 41 jaar, blink my boots vandag nog net soos die dag toe ek in die polisie begin het."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'