MOSSELBAAI NUUS - Die nou reeds bekende "ridder op 'n wit perd", Burre Burger van Droogtehulp, het verlede Vrydagoggend R10 200 aan Freddie Faul, voorsitter van Cansa Relay for Life (RFL) in Mosselbaai oorhandig.
Burger, wat die afgelope jaar gehelp het met droogtehulp aan boere, het weens die mooi verhaal van Thea en Oom Kalbas, besluit om betrokke te raak by Mosselbaai en Vredenburg se Cansa Relay for Life.
Thea is 'n boervrou van die Noord-Kaap wat tydens die droogte met kanker gediagnoseer is en tans in remissie is. Oom Kalbas is Burre se oom wat ook met kanker gediagnoseer is.
Burre het spesiaal hempies en pette laat maak, pienk vir die vroue en blou vir die manne, wat landswyd te koop is om geld in te samel. Hierdie items is beskikbaar by Mosselbaai Nissan en sal ook tydens die naweek se Cansa Relay for Life te koop wees.
Hierdie naweek (3 tot 4 November), vind die tiende Cansa Relay for Life Mosselbaai by die Hartenbos Amfiteater plaas.
Dit is ook Freddie Faul, voorsitter, se tiende agtereenvolgende jaar aan die stuur van sake. Freddie is sinoniem met die Cansa Relay for Life – 'n man met 'n groot, liefdevolle hart. Die tema vanjaar is Together We Can - Decade of Celebration.
Die Relay begin om 17:00 Saterdagmiddag.
Kankeroorwinnaars en komiteelede wat teenwoordig was met die ontvang van die skenking: Van links, voor is oorwinnaars Jenny Raaff, Alida Calitz en Hannah Fourie. Agter: oorwinnaar Lloyd Calitz, Freddie Faul (RFL), René Malan (RFL), oorwinnaar Ray van den Bergh, Margaret Bhana (RFL), Ernie Jacobs (Nissan) en oorwinnaar Martin Fourie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'