Gallery
MOSSELBAAI NUUS - 'n Oop hand en omgee vir ander - dít is tekenend van Theuns Kritzinger en sy vrou Jackie wat die afgelope naweek 'n ekskursie om droogtehulp in die Boesmanland te versprei as wittebrood verkies het.
"Ek wil vir al my vriende dankie sê vir hul ruim bydraes, op uiters kort kennisgewing, wat so broodnodig was en met soveel ootmoed ontvang is," sê Theuns.
Skenkings gevra
Nou vra Theuns alle Mosselbaaiers om skenkings vir die voortbestaan van landbouers te maak wat deur die droogte gewurg word.
Hy vertel dat hulle besluit het om Burre Burger, wat al telkemale droogtehulp ook in Mosselbaai-omgewing versprei het, na die Boesmanland te vergesel en dit hul wittebroodsreis te maak.
"Die Woensdagaand voordat ons sou vertrek vra ek toe impulsief 'n paar vriende vir skenkings om saam te neem. Donderdagoggend toe ek om 07:30 by my fabriek kom, toe wag die eerste mense reeds.
Ek is oorweldig deur die omgee van Mosselbaaiers."
Theuns vertel van die swaarkry, die uitmergelende droogte, die versengende hitte wat die Boesmanland verbrand tot 'n woestynlandskap waar selfs die geharde kokerbome bes gee. Jong kokerboompies vrek, die oues kantel om.
Koskaste leeg
"Op soveel plase het die plaasmense niks in hul koskaste nie. Elke sent word op die bietjie vee wat dalk nog oor is, uitgegee. Selfs die bietjie wild soos waaierstertmeerkatjies kom na die huise toe vir kos en water. Dit is 'n ongekende droogte wat dieper sny as wat die oog kan sien."
Die groep weldoeners het benewens veevoer ook nie-bederfbare kos, water en benodigdhede soos batterye, motorbande en medisyne met hul saamgeneem en uitgedeel aan diegene wat behoefte het.
Flou geword
"In een geval het 'n oom van meer as 80 jaar oud aangekom waar ons voer uitgedeel het. Hy het self sy voer geskep, want baie van die plase het nie meer werkers nie. Hy het self nie geëet nie, net gewerk. Toe hy wegry, het hy agter die stuur van sy stokou bakkie flou geword. Ons moes hom lawe en help met kos en water. Hy wou net plaas toe, hy wou die voer by sy vee kry."
Theuns sê waar hulle ookal gekom het, is die groep gul onthaal en al het die plaasmense self dit skraps, het hulle altyd iets vir die span saamgegee. "Op een plaas het die plaasmense amper die granaatboompie se takke gebreek om die beste granate vir ons te pluk. Ons mag self nie leë hande vertrek het nie."
Min wetend dat dit Theuns en Jackie se - ietwat laat - wittebrood is, is die egpaar op een van die plase waar hulle aangedoen het juis die honeymoon suite gegee om in te oornag. "Ons het met hierdie besoek dalk meer gehuil as wat ons op kon reken, maar ons het ook baie gelag, baie in die swaarkry, maar ook in die omgee en ruimhartigheid gedeel."
Hanslam gered
Theuns vertel van 'n plaasvrou wat 'n hanslam 'n bietjie skenkingswater gegee het. "Die lam verstik toe. Daardie vrou skud die lam en praat met hom soos met 'n kind. Uit die desperaatheid in haar stem hoor 'n mens dit gaan oor veel meer as die lam se lewe; dit gaan oor haar en haar gesin se eie oorlewing."
Dis toe dat Theuns vir seker vyf minute lank mond-tot-mond-asemhaling op die lam toepas en sy lewe red. Saam met die lam gee hy toe weer hoop aan 'n desperate plaasvrou in die middel van die Boesmanland.
Nou vra Theuns die Mosselbaaiers om hul harte en hande oop te maak vir die landbouers wat so swaarkry.
Geen regeringshulp
"Daar is nie regeringshulp vir hierdie mense nie. Daar is nie eens meer stootskrapers om hul paaie rybaar te maak nie. Daar is landbouers sonder kos op hul eie tafels - dit is ouers wat kinders se skoolfondse moet betaal, wat kinders, arbeiders en vee moet versorg en staande hou, wat moet moed hou."
Donasies
Hopelik sal die volgende uitreik oor sowat ses weke plaasvind.
"Ek het stoorplek. Ek vra dat Mosselbaaiers nie-bederfbare kos, skoonmaakmiddels, toiletware, alledaagse kruideniersware sal skenk sodat ons, ons mense - ongeag van ras of geslag - uit hul nood kan help. Wat is rykdom; die geldjie in die bank, of die omgee in jou hart?"
Enige persoon wat Theuns wil kontak, kan 044 695 0268 of 082 376 5115 skakel. Hy benadruk dat hy nie kontant kan neem nie.
Kontant kan oorbetaal word aan Burre Burger NPC, FNB Tjekrekening 62721858522, takkode 250655, verwysing HOOP.
Hoewel sowat twee jaar later, was Theuns Kritzinger en sy vrou Jackie se wittebrood in die Boesmanland 'n lewensveranderende ervaring.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'