MOSSELBAAI NUUS - Die Mosselbaai-munisipaliteit versoek inwoners van Heiderand, D’Almeida, Uitbreidings 13, 23 en 26, Pinnacle Point, Asla Park, KwaNonqaba, Mosselbaai-gholflandgoed, Linkside en Da Nova om dringend te let op hulle waterverbruik. Dit volg nadat die reservoirs wat hierdie woonbuurte van water voorsien, nie tot optimale vlak opgevul is nie.
Dit is die stelselmatige, kumulatiewe effek van volgehoue beurtkrag veral op Fase 4 wat meegebring het dat die pompe wat die reservoirs op die gewenste vlak moes hou nie lank genoeg operasioneel kon wees om dit te bewerkstellig nie.
‘n Bydraende faktor is die heelwat laer reënval, vergeleke met verlede jaar in Oktober en November wat inwoners noodsaak om hulle tuine meer gereeld nat te lei.
Die warmer weer van die afgelope paar weke het ook vermoedelik tot hoër waterverbruik in die genoemde woonbuurtes gelei.
“Met die vakansieseisoen voor hande, wanneer daar groot hoeveelhede besoekers na Mosselbaai kom, doen ons ‘n ernstige beroep op die inwoners van Heiderand, D’Almeida, Mosselbaai se Uitbreidings 13, 23 en 26, Pinnacle Point, Asla Park, KwaNonqaba, Mosselbaai-gholflandgoed, Linkside en Da Nova om water spaarsamig te gebruik. Dit is in almal se belang,” sê die munisipale bestuurder, Colin Puren.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'