Stefan, Henry en Arthur is die seuns van Arthur en Amanda Cockroft, wat naby die Wolwedansdam, Groot-Brakrivier boer. Hanneke, Karla en Chrisna Stander is die kleinkinders van Gibo en Ansie Gerber van Hersham; en Micha, Jana en Carli van Dyk is die kleinkinders van Jan en Antoinette Richter van Dwarswegstrand, Groot-Brakrivier.
Andries en Christa Stander van die Langkloof se drieling dogters, Hanneke, Karla en Chrisna het by hulle trotste oupa en ouma, Gibo en Ansie Gerber in Hersham gekuier. Dié drieling was, na wat verneem word, Suid-Afrika se eerste natuurlike identiese vierling dogtertjies. Hulle sussie, Anina, het net sewe dae geleef. Sy het 'n halwe hartjie gehad weens 'n ontwikkelingsdefek.
Die Standertjies is op 1 Februarie 1994 op 32 weke gebore en moes destyds 'n bloedoortapping kry, waarvan slegs 5ml bloed vir elkeen genoeg was. Pa Andries en sy twee susters was die skenkers.
Volgens mediese statistiek, is daar net een uit 13-miljoen kans om 'n natuurlike identiese vierling te kry. Tot dusver is daar slegs 60 identiese vierlinge wêreldwyd aangeteken. Sover bekend in Suid-Afrika is die enigste twee identiese vierlinge die bekende Lombard mans en die Stander meisies. Die Lombard-vierling is 62 jaar gelede ook in Februarie gebore.
Die Stander-drieling het hul skoolloopbaan aan die Laerskool Uniondale begin en toe ouboet Adriaan hoërskool toe moes gaan, het hul ouers groot opofferings gemaak. Hulle het 'n huis op Oudtshoorn gekoop, waar ma Christa in die week met die kinders gebly het en net naweke plaas toe kon gaan. Adriaan het by Pincipia Kollege en die meisies by Hoërskool Oudtshoorn studeer. Tydens sport en eksamen, moes pa maar naweke Oudtshoorn toe.
Die drie het tydens die onlangse matriekeksamens 11 A's onder mekaar ingeryg. Hulle studeer nou by NWU-Pukke. Karla het ingeskryf vir Stads- en Streeksbeplanning, Chrisna (Maatskaplike Werk) en Hanneke (Verbruikerswetenskappe). Voor die uittog na Potchefstroom het die drieling die afgelope vakansie by hul trotse oupa en ouma, Gibo en Ansie Gerber, op Groot-Brakrivier vakansie gehou.
Oupa Gibo, die oud koerant – en radiojoernalis, was ook op die PUK. Hy het tydens sy nagraadse studie (MA) ook 'n rukkie waargeneem as dosent in die destydse Departement Perswetenskap en was later, onder andere, ook hoof van die Departement Joernalistiek en Skakelwese by wat nou bekend staan as die Tswane Universiteit vir Tegnologie. Hy is tans lid van Mosselbaai se Stadsraad en Eden Distrikmunisipaliteit.
Die Stander-drieling het tydens hulle kuier by oupa en ouma, kennis gemaak met die drieling mans, Stefan, Henry en Arthur Cockroft. Die Cockroft-drieling het pas hul grade aan die PUK verwerf.
Die ander drieling wat hier gesig gewys het is Michael en Naomi van Dyk se drieling dogtertjies, Micha, Jana en Carli.

Andries en Christa Stander se drieling, Hanneke, Karla en Chrisna het onlangs vir Stefan, Henry en Arthur Cockroft ontmoet toe hulle almal in Groot-Brakrivier gekuier het.