MOSSELBAAI NUUS - Drie Mosselbaaiers se name pryk op die onlangs-vrygestelde boek, Draaie, swaaie en afdwaalpaaie.
In dié boek vertel 46 skrywers verskillende verhale van buitengewone reiservarings - hetsy humoristies of meer ernstig.
Onder hierdie 46 is daar drie plaaslike name, Annelize van Rooyen, Harry Hill en Japie Gouws. Van Rooyen het nie net help skryf nie, maar is ook een van die samestellers van die boek - sy en Corlia Fourie het dié taak behartig.
Die boek is deur Quellerie-uitgewers uitgegee. Van Rooyen vertel die idee het rondom 'n koffietafel op Groot Brak uitgekom terwyl hulle oor en weer stories uitgeruil en heerlik gelag het vir die dinge wat met jou kan gebeur wanneer jy op reis is.
Van daar toe die idee om 'n paar sulke verhale in een boek vas te vang. Die drie het min bekendstelling op Mosselbaai nodig.
Van Rooyen is 'n voormalige joernalis en skrywer van wie al 'n paar boeke gepubliseer is, en Gouws, is die voormalige besturende direkteur van die ATKV en nou 'n sakeman op die dorp. Hill en Van Rooyen is ook oud-koerantkollegas. Van Rooyen sê deur die hele proses was hul uitgewer, Carolyn Meads, 'n ongelooflike persoon om mee te werk.
Om soveel stories aan mekaar te sit is geen klein taak nie. Bekendes onder die ander 46 skrywers in die boek sluit in Marita van der Vyver, Bettina Wyngaard, Frederick de Jager, Kerneels Breytenbach, Kirby van der Merwe, Jacques Pauw en Sophia Kapp.
Die boek is amptelik op 20 Mei vrygestel en verskeie bekendstellings is al landswyd gehou - juis omdat daar so baie skrywers betrokke is en hulle natuurlik nie almal op een plek kan wees nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’