MOSSELBAAI NUUS - Ongeag die talle hanteerfoute deur die SWD Arende het dié span nietemin hul provinsiale voorseisoenwedstryd op 'n dramatiese wyse teen die Griekwas op die Van Riebeeck-stadion in Mosselbaai beklink.
SWD Arende het Saterdag, 24 Maart in die eerste helfte hul man behoorlik gestaan op die verdediging, maar belowende agterlynbewegings het dikwels skipbreuk gelei weens onnodige aanslane en oorywerige onkantspel.
Die enigste punte van die eerste helfte is eers in die 33ste minuut aangeteken toe die ysterflank, Janneman Stander deur Griekwas se verdedigingslinie gebars het nadat die voorspelers omgekeerde besit bewerkstellig het. Die loskakel, Leighton Eksteen het suksesvol verdoel en die spelers het gaan rus met die telling op 7-0.
Griekwas het in die tweede helfte meer geduld getoon op die aanval en was welverdiend beloon met 'n drie toe die skrumskakel, Louis Venter gaan druk het. Dit was egter 'n onverdoelde drie.
Die Griekwa-voorspelers het hierna geleidelik die oorhand begin kry en het SWD veral by die skrums behoorlik onder druk geplaas.
Nadat Griekwas goed gedryf het, het die agsteman, Kevin Kaba in die hoekie oorgeseil vir 'n goed gekonstruktueerde drie in die 70ste minuut.
Die loskakel, Pieter Steyl De Wet het misluk met die doelskop, wat die telling op 10-7 te staan gebring het. Met slegs 10 minute se speeltyd oor, en Griekwas se voorpelers in 'n dominerende bui , was 'n oorwinning vir die besoekers nie vergesog nie.
Die SWD Arende het egter vyf minute voor die eindfluitjie die spreekwoordelike haas uit die hoed gepluk toe die vleuel, Marlo Weick deurgenael het vir die wenpunte toe hy die opposisie se heelagter met vaart geklop het en in die hoekie gaan druk het.
Die doelskop was mis en die eindfluitjie is kort daarna geblaas om aan SWD 'n dramatiese, naelskraap oorwinning te besorg.
ARTIKEL & FOTO: HEINRICH FORTUIN, MOSSEL BAY ADVERTISER KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'