MOSSELBAAI NUUS - Dienslewering deur die munisipaliteit is een van die fasette wat in onlangse meningsopnames meegewerk het om Mosselbaai-munisipaliteit as die beste in die land uit te wys.
'n Inwoner van Wyk 8 het vandeesweek beleef dat dienslewering werklik prioriteit vir die munisipaliteit is.
Skaars het sy bewyse van rommelstrooiing op die trappe na Munro- en by Santosstrand onder die aandag van die munisipaliteit gebring, of 'n werkspan is ontplooi om die area op te ruim.
Die munisipaliteit doen weer eens 'n beroep op inwoners om nie rommel te strooi nie. Nie net laat die die dorp met 'n onnet voorkoms nie, maar bring onnodige uitgawes mee wat vir ander prioriteite aangewend sou kon word.
Swartsakke
Inwoners wat nie op die geskeduleerde vullisverwyderingsdag hul swartsakke buite hul erf kan sit vir verwydering nie, word gewys op die grootmaathouers wat op strategiese plekke in woonbuurte beskikbaar is.
Dit geld ook diegene wat eiendomme aan vakansiegangers verhuur of besoekers wat slegs vir naweke in die dorp tuisgaan en verantwoordelik van hul vullis ontslae wil raak.
Swartsakke met huishoudelike vullis kan in hierdie houers geplaas word. Inwoners word veral gemaan om nie swart sakke lank voor die geskeduleerde verwydering buite hul erwe te plaas nie omdat dit sakkrappers na die woonareas lok. Verskeie buurtwagte het benadruk dat sakkrappers bydra tot hoër misdaadstatistiek.
'n Inwoner van Wyk 8 het vandeesweek gekla oor vullis wat by die trappe na Santosstrand gestort word.
Huishoudelike afval in swart sakke kan in houers soos hierdie een by die Danabaai-gemeenskapsaal gestort word sodat dit nie vir dae op sypaadjies gelos word nie. Foto: Marius van Wyk
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'