MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaai-munisipaliteit het weer eens inisiatiewe met verskeie rolspelers bespreek sodat inwoners se veiligheid by sommige hoërisiko-areas verseker kan word.
Knelpuntareas, soos langs Louis Fourieweg tussen Diasstrand en De Bakke, asook die gewilde St Blaize-wandelroete word toenemend gepatrolleer, ook deur lede van die buurtwagte en munisipale wetstoepassers. Die polisie is ook gevra om groter sigbaarheid by risiko-gebiede te handhaaf en meer gereelde misdaadvoorkomingsoptredes van stapel te stuur by areas wat gereeld deur misdadigers geteiken word.
Die uitvoerende burgemeesterskomiteelid vir infrastruktuur-ontwikkeling, wat ook deur die uitvoerende burgemeester afgevaardig is om names die munisipale raad na gemeenskapsveiligheid om te sien, raadslid Anton Dellemijn, sê hoewel die munisipaliteit nie as sodanig 'n veiligheidsmandaat het nie, speel die plaaslike owerheid 'n onmisbare rol as koördineerder van inisiatiewe om veiligheid te bevorder.
"Die rol van effektiewe buurtwagte in die bekamping van misdaad kan nie genoeg beklemtoon word nie. Die polisie, wetstoepassers en privaat sekuriteitsmaatskappye word goed ondersteun deur die onderskeie buurtwagte. Saam maak hierdie groepe 'n onontbeerlike span in die stryd teen misdaad.
"Ek doen 'n ernstige beroep op die gemeenskap om by buurtwagte betrokke te raak. Ek bedank elke polisielid, wetstoepasser en buurtwaglid vir hul onbaatsugtige diens aan Mosselbaaiers. 'n Veilige omgewing lok toerisme, lok investering en dra by tot werkskepping. Só kan die dorp en plaaslike ekonomie groei en vooruitgaan," sê raadslid Dellemijn.
Mosselbaai-munisipaliteit se wetstoepassers doen gereelde, hoewel sporadiese patrollering van probleemareas.
"Dis kommerwekkend dat inwoners steeds, ongeag herhaalde waarskuwings en bewusmakingsprojekte, dit alleen waag in gebiede waar misdadigheid al hoe meer voorkom," berig die hoof van gemeenskapsveiligheid, mnr Henry Williamson.
Die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren, maan inwoners om met hul verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid met groter erns te bejeen.
"Te dikwels word opgemerk dat inwoners nog op gevaarsones alleen draf of fietsry. Daar is groter veiligheid in groepe, en inwoners word aangemoedig om in groepe te oefen.
"Die munisipaliteit ondersteun graag die buurtwagte en bedank inwoners wat lede van die onderskeie buurtwagte is. Nie alle lede van buurtwagte patrolleer noodwendig die strate nie, daar is heelwat ander rolle om te vul. Elke inwoner wat aktief op gemeenskapsveiligheid ingestel is, by 'n buurtwag ingeskakel is en verdagte optrede rapporteer, maak dit vir nooddienspersoneel net makliker om gepas op te tree sou dit nodig wees."
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL & VIDEO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'