MOSSELBAAI NUUS - 'n Boer van Jonkersberg duskant Groot-Brakrivier, Barend Uys sê hy kom nog tot verhaal nadat 40 van die 62 springbokke wat hy in 'n wildkamp aanhou op Vrydag, 26 Januarie dood aangetref is.
Nadat Uys op die grufonds afgekom het, het hy die polisie op Groot-Brakrivier gekontak waarna ondersoekbeamptes en lede van die Langeberg K9 honde-eenheid die toneel besoek het.
Volgens die woordvoerder van die polisie op Groot-Brakrivier, sers Chantel Marais het dit vir polisiebeamptes op die oog af gelyk of die beserings aan die diere skietwonde was.
'n Dossier is geoepen waarna 'n saak van opsetlike saakbeskadiging ondersoek is.
Hoewel geen koeëls op die toneel gevind is nie, is 'n plan van stapel gestuur om met 'n metaalverklikker na patroondoppies te soek.
Intussen het Elize Rautenbach, Uys se vriendin twee van die dooie springbokke na 'n veearts op Mosselbaai geneem.
Volgens Rautenbach het die veearts aan haar bevestig dat die springbokke nie geskiet is nie, maar dat dit wel blyk of daar bytmerke aan die springbokke is.
Die polisie op Groot-Brakrivier is van die veearts se bevinding ingelig.
Rautenbach sê hulle krap nog kop oor watter dier die springbokke aangeval het, hoewel hulle vermoed dat dit moontlik die werk van honde was.
"Ons het onlangs 'n nuwe wildsheining opgerig en verstaan glad nie watter soort dier in die kamp ingekom het nie.
"Ons het die drade ondersoek en ek het wel 'n opening gekry waar 'n klossie hare steeds aan die draad hang." Rautenbach sê die springbokke het die hele kamp vol gelê.
Die dooie springbokke nadat Uys hulle bymekaargemaak het.
Die moontlikheid bestaan ook dat 'n sekere aantal springbokke dood is omdat hulle teen die wildheining vasgehardloop het.
Die springbokke het bytplekke aan die nek, kop en agterstewe.
Uys sê hy bereken sy verlies op minstens R250 000 aangesien daar gesogte ramme in die trop was.
Altesaam 24 van die ooie wat dood is, was dragtig en sou oor drie weke gelam het.
"Dit was my droom en trots," sê Uys.
'n Polisiehond fynkam die toneel.
Lees vorige artikels:
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutse Mosselbaai, Tuinroete nuus'