MOSSELBAAI NUUS - 'n Skeurtandhaai wat by Fransmanshoek deur 'n visserman gevang en vrygelaat is, maar 'n dag later uitgespoel het en dood is, het inwoners van die omgewing ontstig.
Die 208kg wyfie is vermoedelik op Sondag, 4 Oktober by Stilbaatjie gevang en het op Maandag, 5 Oktober uitgespoel.
'n Bekommerde inwoner van die omgewing het die Mossel Bay Advertiser gekontak en sê haaivangers is gereeld in die omgewing.
"Hoewel geen wet oortree is nie, is daar tog 'n etiese kode en as jou etiek so is dat jy aan sulke praktyke deelneem en 'n haai die volgende dag uitspoel en sterf, dink ek nie dit is reg nie."
Die voorval is by die Fransmanshoek Bewarea aangemeld. 'n Studente bewaarder, Christopher Liebenberg het die voorval bevestig.
"Ons weet wie die visserman is. Dit is 'n ervare visserman wat gereeld haaie vang en weer loslaat en ongelukkig het dit nou gebeur." Liebenberg sê hulle het die toneel besoek en dit blyk dat die haai, wat 220cm lank is, vermoedelik 'n week of twee vantevore geboorte geskenk het.
"Ons vermoed dat haar energievlakke weens die geboorte steeds laag was. Die plek waar sy beland het toe die visserman haar wou terugsit in die see, was rotsagtig en sy kon vermoedelik nie haar energievlakke weer vinnig genoeg opstoot nie. Sy het die volgende dag uitgespoel."
Liebenberg bevestig dat geen wet oortree is nie. "Ons sal wel die publiek en vissermanne wil opvoed oor hoe om sulke voorvalle te vermy en hoe om suksesvol te vang en weer vry te laat."
Liebenberg het met die betrokke visserman gesels en sê hy het hom ingelig oor voorsorgmaatreëls om te verhoed dat so iets weer gebeur.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'