Update
MOSSELBAAI NUUS - Die skipper van 'n Mosselbaaise visserskuit, Dijaanda het Dinsdagoggend in stik-donkerte onverpoosd kardiopulmonêre resussitasie op een van sy bemanningslede op die rotse by Gouritsmond toegepas nadat hul boot in die vroeë oggendure hier op die rotse geloop het.
Sewe plaaslike vissermanne was aan boord. Vier is dood en twee mans is gered. Ondanks 'n uitgebreide soektog was nog 'n man met die ter perse gaan, steeds vermis.
Die polisie kon ook nog nie die name van die slagoffers bekend maak nie.
'n Traumatiese reddingspoging deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het gevolg toe 'n noodsein Dinsdagoggend, 8 Augustus, skuins voor 02:00 deur die Telkom Maritieme Radiodiens ontvang is.
Dié Mayday-noodroep was van 'n hoë frekwensie radio. Die presiese ligging van die boot kon egter nie dadelik bepaal word nie, behalwe dat dit in die Gouritsmond-omgewing was.
Boonop was daar geen selfoonsein nie asook geen radio-kommunikasie in die gebied nie.
Grootskaalse soektog
Bemanningslede van die vissersboot Vuna Elisa wat ook in die omgewing van Gouritsmond visgevang het, het die noodroep gedeeltelik gehoor en dadelik met 'n soektog ter see begin.
Hulle soektog na die Dijaanda is deur twee ander vissersbote wat ook in die omgewing was, ondersteun.
NSRI-woordvoerder, Craig Lambinon, sê dat lede van NSRI Stasie 15 van Mosselbaai asook Mosselbaai-nooddienste dadelik ontplooi is om met 'n soektog langs die kuslyn te begin. Hulle is deur Gourits se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) bygestaan.
Reddingspanne van die NSRI Mosselbaai en brandweer het om ongeveer 03:00 sowat 5km wes van Gouritsmond op die Dijaanda afgekom waar sy in vlakwater op die rotse geloop het. 'n NSRI-bemanningslid moes sowat 3km ver ry om 'n radiosein te kry om die posisie van die boot deur te stuur na ander instansies.
Bemanning
Dijaanda se skipper, Wesley Matthee, is op die rotse gevind en nog 'n bemanningslid kon gehoor word waar hy vanuit die Dijaanda om hulp geroep het.
Matthee het aan NSRI-lede gesê hy het kort vantevore kardiopulmonêre resussitasie op 'n bemanningslid op die rotse toegepas, maar teen die tyd wat die NSRI die toneel bereik het, was die gety hoër en die rotse met water bedek.
Matthee en die bemanningslid wat aanboord gevind is, is op die toneel vir hipotermie behandel. Die oorlede vier bemanningslede se liggame is deur die polisie se forensiese afdeling van die toneel verwyder.
Verskeie ander nooddienste het later ook by die soektog aangesluit, wat die Skymed helikopter insluit en nog twee bote van NSRI Stilbaai.
Dijaanda, 'n 10m lange vissersboot het voor die tragedie plaasgevind het, van die Agulhas omgewing huiswaarts gekeer nadat sy daar vir drie dae lank vis gevang het.
Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsgesag (SAMVS) het 'n ondersoek na die oorsaak van die stranding geloods terwyl die polisie geregtelike nadoodse dossiere met betrekking tot die oorledenes geopen het.
Twee bemanningslede van die Nasionale Seereddingsinstituut by die Dijaanda nadat dié Mosselbaaise vissersboot Dinsdagoggend by Gourits op die rotse geloop het. Die skipper van die boot is op die rotse gevind en nog 'n bemanningslid het om hulp vanuit die gestrande boot geroep. Beide is vir hipertermie behandel. Vier vissermanne se liggame is op die toneel gevind en nog 'n visserman is met ter perse gaan steeds vermis. Foto: Dawie Zwiegelaar
Vorige artikel:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’