Update
MOSSELBAAI NUUS - Volgens Stasie 15 van die Nasionale Seereddinginstituut (NSRI) op Mosselbaai, is 'n noodsein vanoggend om 01:50 deur die Telkom Maritieme Radiodiens van die Dijaanda vissersboot ontvang.
Die "Mayday" noodroep van 'n hoë frekwensie (VHF) radio kon nie die presiese ligging van die boot bepaal behalwe dat dit in die Gouritsmond area in nood verkeer.
Twee ander vissersbote in dieselfde omgewing het die noodroep gedeeltelik gehoor en dadelik met 'n soektog begin.
Stasie 15 en Mosselbaai-brandweer se nooddienste is ontplooi en 'n soektog langs die kuslyn is van stapel gestuur. Gourits se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het NSRI bygestaan in die soektog.
Ongeveer 5km wes van Gouritsmond het die reddingspan van die NSRI op die boot afgekom waar dit op die rotse geloop het.
Die skipper is in die vlak water gevind en hy het die NSRI meegedeel daar is ses ander mans op die boot.
Een van die bemanning is deur die NSRI van die boot gered, maar met die verdere soektog is die liggame van nog vier bemanningslede gevind.
Mossel Bay Advertiser het reeds die name van die skipper en twee van die oorledenes, maar dit is nog nie deur die polisie bevestig en vrygestel nie.
Die oorlewendes is op die toneel vir hipoterme behandel en na die hospitaal vervoer vir verdere behandeling.
Verskeie ander nooddienste het ook by die soektog aangesluit, wat die Skymed helikopter insluit.
Die soektog na die laaste en vermiste bemanningslid sal môre voortgaan.
Stilbaai R 31
Vorige artikel: 4 dood, een vermis nadat vissersboot op rotse loop
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’