Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die rugbyderby tussen Hoërskool Sao Bras en Hillcrest Sekondêre Skool is elke jaar 'n hoogtepunt op die sportkalender. Vanjaar weer, was die D'Almeida-sportgronde verlede Donderdag, 16 Augustus 'n miernes van bedrywighede soos die ondersteuners daarheen stroom en die pawiljoen vol gepak sit met leerders trots in hulle skooldrag om die onderskeie spanne te ondersteun.
Vir 'n handjievol toeskouers, die familie van Lugiano Gelderbloem (19) was vanjaar se kragmeting iets besonders, hoewel bittersoet. Gelderbloem, wat vanjaar aan Hillcrest Sekondêre Skool sy matriek sou voltooi, is op 4 Januarie oorlede nadat 'n 19-jarige, wat in 2017 in Groot-Brakrivier in matriek was, hom tydens 'n onderonsie 'n meswond in die borskas toegedien het. Lugiano is later in 'n plaaslike hospitaal oorlede.
Clinton Windvogel, Lugiano se pa het tydens 'n onderhoud met die Mossel Bay Advertiser vroeër vanjaar gesê dat sy seun, 'n kranige rugbyspeler, skaars drie maande voor sy dood 'n suksesvolle hartoperasie gehad het. Wat die skok van sy seun se dood vererger het, is die feit dat hy die dag voor sy pa en oupa se verjaarsdae, oorlede is.
Kieron en Kylie Windvogel met hul t-hempies waarop hulle broer, Lugiano se gesig verskyn. Die hempies is spesiaal vir die rugbyderby tussen Hillcrest en Sao Bras gedruk.
Positiewe uitkoms
Familielede van Lugiano Gelderbloem het na rype beraad besluit dat hulle sy nagedagtenis moet huldig op 'n postiewe manier. Aangesien Lugiano so lief vir rugby was, het hulle besluit om 'n trofee wat sy naam dra te skenk vir die wenners van die rugbyderby tussen Sao Bras en Hillcrest.
Die trofee is Donderdag bekendgestel voor afskoptyd en familielede het swart en pienk balonne die lug in gestuur om Lugiano se lewe te gedenk.
Aanvanklik is daar 'n ligte geskerts tussen Clinton en Lugiano se biologiese ma, Anneline Gelderbloem aangesien die twee in die opponerende skole matriek gemaak het. Hy in Hillcrest en sy in Sao Bras.
"Dis maar opnuut 'n moeilike tyd vir ons. Dit was verlede week Hillcrest se matriekafskeid en nou die derby. Ek weet as hy nog gelewe het, was Lugiano waarskynlik vandag die kaptein van die eerstespan wat hier uitdraf."
Karin Julies, 'n tante van Lugiano sê dat die familie deur hierdie gebaar poog om mense wat die slagoffers van geweld is te bemoedig. "Ons wil ondersteuning bied aan mense wat deurmaak wat ons deurgemaak het." Sy sê dat sy Lugiano baie gepols het oor sy liefde vir rugby. "Hy't altyd geantwoord dat rugby 'n spansport is. Jy speel nie vir jouself nie, jy speel vir jou maat was sy mening gewees." Juis daarom, glo die famlie dat sport die ideale manier is om na mense uit te reik. Pa Clinton beaam dat hulle nog groter planne het vir die toekoms.
"Dis alles goed en wel dat ons hier is vandag. Maar dit moes nie om hierdie rede gewees het nie. Ons moes eerder vir Lugiano kon cheer op die veld vandag," sluit Lugiano se stiefma, Sonika Windvogel af.
Kyk 'n video hieronder.
Familielede van Lugian Gelderbloem het 'n bittersoet dag beleef by die rugbyderby tussen Hillcrest en Sao Bras. Hier is hulle met die trofee wat hulle in Lugiano se naam aan die wenners van die derby skenk. Van links: Anneline Gelderbloem, Amelia, Sonika, Clinton en (voor) Kieron en Kylie Windvogel.
Die eindtellings in vanjaar se kragmeting is:
- o/15 : 20 (Sao Bras) - 5 (Hillcrest)
- o/16: 12 (Sao Bras) -7 (Hillcrest)
- o/19: 14-14 (Sao Bras en Hillcrest gelykop).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'