GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Dokter Lappies (Pieter) Labuschagne wil homself op 'n nuwe wyse tot die mediese veld wend ná hy sig in eers sy regter- en toe linkeroog verloor het.
Labuschagne, oftewel dr Lappies, is 'n welbekende naam op Groot Brak ná hy vir 23 jaar daar as algemene praktisyn praktiseer het tot 2010 waarna hy verhuis het.
In 2016 het hy teruggekeer en sowat twee jaar later en tot onlangs het hy by die Walk In Doctor & Dentist in George gewerk en soms gelocum op Mosselbaai.
Wat dít merkwaardig maak, is dat hy sedert Oktober 2023 aanhou praktiseer het ten spyte van blindheid in sy regteroog.
Hy het sy oog tydens 'n val beseer.
Sy dae van praktiseer het egter op 3 Januarie tot 'n einde gekom ná hy weer geval het, en dié keer sy linkeroog beseer het. Daar was aanvanklik hoop vir sig, vertel hy, maar ook dit is later weg.
Passie vir beroep
Vir 'n man met 'n absolute passie vir sy beroep, en vir mense help, is dit iets wat hy byna nie kan of wíl glo nie, maar hy moet aangaan, sê hy.
"Ek sal sê my wêreld is nou 90% kleiner as wat dit was. Ek kan nie sien nie, ek kan nie bestuur nie, ek kan nie my geliefdes sien nie...
"'n Mens gaan deur depressie en skok; op 'n stadium is jy kwaad en natuurlik daai woordjie van 'hoekom?'. 'n Mens se gedagtes gaan baie plekke."
En hy mis sy werk.
"Ek dink aan hoe ek weer iets vir mense kan beteken, want ek het baie plesier daaruit geput. Dit gaan nie oor geld maak nie."
Hy sê, sou dit moontlik wees, sal hy belangstel daarin om miskien sielkunde op 'n manier te probeer.
"Baie keer kan jy niks doen nie, maar jy kan luister."
Humor
Intussen probeer hy egter geduldig wees met homself en is net dankbaar vir die ondersteuning wat hy ontvang van vriende, familie, en veral sy vrou, Sandra.
Hy sê hy het aanvanklik nie kans gesien vir so afhanklik wees van iemand nie, "maar daar is tye wat dit beter is, en ek sou dit nie kon gedoen het sonder Sandra nie".
Tenspyte van die uitdagende tyd waardeur hy gaan is dit sy sin vir humor wat steeds behoue bly.
Hy spot en sê hy sê soms vir haar, "Sit die lig aan ek kan nie lekker sien nie."
"Jy moenie glo, dan doen ek dit, hoor!" sê Sandra.
Dokter Lappies sê die gemeenskap van Groot Brak was baie goed vir hom, en hy gee om oor elke pasiënt wat deur die jare by hom was, op Groot Brak en ander areas.
Dit is ook hoekom hy sy storie vertel, sodat hierdie mense waarvoor hy sy passie kon uitleef, ook weet waarheen hy is.
Hy is steeds op Groot Brak, hy stel nog steeds belang daarin om mense te help, hy vind net nog sy pad terug daarheen.
Sou enigiemand hom wou bystaan om hierdie passie aan te hou uitleef, kan hulle deur die Mossel Bay Advertiser met hom in kontak tree.
Stuur 'n e-pos aan linzetta@groupeditors.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’