MOSSELBAAI NUUS - Soggens douvoordag staan Lindiwe Manganyi op die streep tussen die twee bane van Louis Fourieweg in KwaNonqaba.
Sy en ander verkeerskontroleerders reguleer die druk verkeer by die kruising duskant Danabaai, bekend as die Asla-afrit. Danksy Lindiwe en kie loop die pad so glad as moontlik, veral omdat bakkies dagwerkers in die gebied optel.
Lindiwe is reeds ses jaar ‘n verkeerskontroleerder in diens van Nolada Traffic Control. Haar werksoggend begin om 06:00 en duur tot 09:00. Mede-kontroleerder, Shaun Cherry, sê die vroeë oggende pla hom nie. Hy is reeds van 04:30 wakker.
"Die pad is ongelooflik besig met, nie net motors nie, maar ook met mense van die nabygeleë koshuise, wat die straat oorsteek of wag vir hulle daaglikse vervoer," verduidelik Lindiwe.
Verkeerskontroleerders word maklik opgemerk met hul reflektiewe oranje en geel baadjies en die gebruiklike wit handskoene.
Soms raak motoriste ongeduldig met die opeenhoping en besluit dan om hul eie kop te volg en probeer dan op allerhande maniere kortpaaie te neem. Shaun is vinnig om motoriste soos dié te berispe.
Hy is nie skaam om "hey!" te skree wanneer 'n motor die tou probeer oorslaan of wanneer 'n bakkie langs die pad parkeer terwyl daar aangewese areas is vir die op- en aflaai van die werkers is.
Shaun sê motoriste kan somtyds moeilik wees, maar gelukkig nie altyd nie.
Omdat dit so 'n besige area is, het 'n aantal ongelukke al in KwaNonqaba op die Louis Fourieweg plaasgevind.
Mossel Bay Advertiser het vroeër berig oor 'n voetganger-ongeluk wat op 5 Oktober naby die Danabaai-oprit plaasgevind het. In Mei vanjaar, het die Advertiser ook berig oor die ernstige besering van 'n 58-jarige vrou op Louis Fourieweg, in KwaNonqaba.
Verkeerskontroleerders is nie net by die Asla-afrit teenwoordig nie, maar ook in Sonskynvallei en op paaie buite skole in die Kwanonqaba-omgewing.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’