MOSSELBAAI NUUS - Nadat die feestelikheid vanweë die Covid-19-beperkinge uitgestel moes word, het Mosselbaai Dissipelskap verlede week uiteindelik hulle jaarlikse sake-ete aangebied.
Mosselbaai Dissipelskap is deel van Arbeidsbediening wat reeds 37 jaar lank in die groter Mosselbaai aktief is.
Die geleentheid is op Donderdag, 23 Junie in die Mosselbaai-stadsaal gehou en sowat 260 gaste was teenwoordig. 'n Voortreflike driegang maaltyd is deur bekende spysenier en sakevrou, Pam Fivaz voorgesit. Fivaz het goedgunstiglik die voor- en nagereg asook drie skape se vleis vir die ete geborg.
'n Pragtige blommeruiker is aan Fivaz geskenk om haar vir haar harde werk te bedank.
Gerald Glover, 'n bekende in plaaslike sportkringe het die paneelbespreking gelei waaraan Michael Hills, voormalige speurder, Boesman Keyser, bekende SWD rugbyspeler en Meyer Bosman, oud-Springboksenter deelgeneem het. "Die gaste het die paneelbespreking as baie positief en sinvol ervaar," noem een van die organiseerders.
Chris Smit, wat sy eie gemeente in Wildernis bedien en ook al 30 jaar lank deel van Arbeidsbediening is, was die programleier.
Johan Fourie, leier van die geestelike werkerskomitee, het tydens sy spreekbeurt die belangrikheid daarvan om wedergebore te wees aan die gaste oorgedra.
Rina Kotzé, Mareze Kritzinger en Corlea du Plessis van One Way Estates, het tydens die geleentheid opgetree as die verwelkomingskomitee in die voorportaal wat hulle ook vir die geleentheid keurig versier het.
Annette Strydom en Yolandè Kotze het op spesiale versoek 'n lied gesing vanaf hulle CD wat in 2019 gemaak is. Dit bestaan uit liedere wat hulle as lede van Arbeidsbediening tydens bedieningsessies in die werksplek gesing het.
Pierre Lamprecht, voltydse geestelike werker het opnuut sy dank betuig aan firmas wat tafels geborg het en ook aan diegene wat die geleentheid ten spyte van die gure week verlede Donderdagaand, bygewoon het.
"Met die Hemelse Vader se hulp, was dit 'n baie mooi geleentheid," berig Lamprecht.
Trudie Smit (links) en Annette Strydom (regs) oorhandig die blomme aan Pam Fivaz. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'