Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - "Letterkunde is soos die by wat sorg dat die blom van ons taal bestuif word, voortleef en bly sade skiet." Dit is die woorde van Tomas van Kleinbrak na die bekendstelling van sy digbundel 'deel vanaand my boom' by sy woning in Klein-Brakrivier op internasionale Vigsdag op 1 Desember.
Thomas Campher se visie is om digkuns as letterkunde meer toeganklik te maak, tuis te bring as integrale deel van ons kultuur tot binne in die huishouding.
"Met woorde as medium wil ek graag die mense van Suid-Afrika, die wat omgee, inspireer om te verenig en om saam te werk," sê hy.
Die bundel speel af in Johannesburg in die tyd rondom 2004 toe vigs 'n geweldige impak op sy lewe gehad het. Sy bundel neem ons diep in die emosie van sy verwerking rondom die verlies om daaruit te put as bemagtiging tot genesing en heelwording.
Sy woorde-reis van verhalende gedigte, wat wissel tussen die fisiese en die metafisiese, neem ons mee en in plekke in waar elkeen van ons self een of ander tyd moet ingaan of deurgaan.
Hierdie boekie word met vrymoedigheid aanbeveel as 'n moet vir elke leser.
"Dit was 'n eer om my swaer hier te hê. Walter Robertson het nie net vir Libby, my oorlede suster wat so graag hier sou wou wees, maar ook my hele familie verteen-woordig by die bekendstelling van my eerste kreatiewe publikasie."
"Die feit dat die burgemeester Dirk Kotzé en sy vrou, Riëtte in hulle nie-amptelike hoedanigheid kom saam kuier het en boonop met goeie wense en 'n boek hier weg is, is vir my 'n riem onder die hart," sê Campher.
"Natuurlik word elke skrywer blootgestel maar dit is 'n klein prys om te betaal vir die geleentheid as platform om die byster-paaie met die waarheid wat ons leer, in ons, te kan uitdruk en te kommunikeer. Alle eer gaan altyd na bo, die skrywer het geen ego nie. Elke woord waarin ons onsself uitdruk word deur ons Skepper moontlik gemaak."
Ongeveer 50 boeke is verkoop tydens die bekendstelling, insluitende internet bestellings.
Campher het R30 van elke boek wat verkoop is tydens die bekendstelling, aan DBV-tak op Mosselbaai geskenk.
Boeke is beskikbaar by Munro kafee op Klein Brak en by Wellbeing, die gesondheidswinkel op Oudtshoorn langs die Queens hotel.
Die bundel word amptelik op 18 Februarie 2023 om 18:00 by art@39long in Groot-Brakrivier geloods. Die Weskus kunstenaar George Ellis (ook die illustreerder van die boek), gaan ook van sy werke asook die oorspronklike sketse wat in die boek is, uitstal vir verkope.
VIDEO - Deel vanaand my boom - Tomas van Kleinbrak
Die titelblad van Thomas Campher se digbundel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'