Terwyl ek in die park geloop het, het ek op 'n 'boemelaar' afgekom met 'n pragtige Macaw (papegaai) op sy skouer waarmee hy liefderyk gesels. (Niemand sal jou blameer as jy sou gedink het: 'Wat gaan hierdie ou met die voël doen? Gaan hy dalk sy vere uittrek en hom kook?')
Alan lag te lekker toe ek hom hiervan vertel. "Ja," sê hy, "ek trek altyd my oudste en stukkendste klere aan as ek met Alex (die Macaw) in die parkie gaan wandel, want hy klim op en af met sy skerp kloue op my arms, skouers en kop en byt dan die hele tyd aan my klere."
Hy vertel van 'n humoristiese insident wat een Kersdag afgespeel het. Terwyl hy met Alex in die park gesit het, het 'n jong paartjie en hulle seuntjie ook daar verbygeloop. Hulle het hom vir 'n ruk lank grootoog gadegeslaan en toe verdwyn. Kort daarna het hulle weer verskyn. Die seuntjie het na hom toe aangestap gekom met 'n hele houer vol kos vir "oom en oom se papegaai".
Hy het tevergeefs probeer verduidelik dat dit nie nodig was nie, maar sonder sukses. Om hulle nie in die gesig te vat nie, het hy en Alex toe maar 'n heerlike Kersmaal in die Harry Giddy Park gehad.
Oor 'n koppie koffie kom ek meer te wete van die merkwaardige mens. Wie sou kon dink dat die 'boemelaar' in die park eintlik die hoof is van die Mosselbaai Haai Akwarium Laboratorium?
Dat hy 'n hoogs gegradueerde Omgewings-kundige is wat gereeld as mentor optree vir internasionale nagraadse studente? Dat hy die skrywer van 'n paar boeke is, asook 'n kenner van die kunsmatige insiminasie van gorilla-wyfies? Hy het ook die voorreg gehad om die beroemde Dianne Fossey van Gorillas in the Mist-faam persoonlik te ontmoet.
Die bekendstelling van sy boek I Touched The Moon (in 2011) het 'n ligte opskudding veroorsaak. In hierdie boek word die leser na die mees verafgeleë en mooi gedeeltes van ons planeet meegevoer. Jy ontmoet byvoorbeeld vir Sylvia die dragtige gorillawyfie wat Alan geleer het om haar 'baba' te voed deur gebruik te maak van 'n klein gorilla-poppie! En ook vir Tantor die Afrika olifantkalfie wat nie kon slaap sonder 'n 'maaitjie' nie.
Ontdek ook verder hoe die outeur 'n potensieël gevaarlike aanval van 'n uitgegroeide gorillamannetjie oorleef het. En hoe hy net-net die dood gesystap het toe hy bestorm is deur 'n woedende seekoeibul.
'n Ander noue ontkoming was toe 'n uitgegroeide Afrika olifant hom met sy slurp opgetel het.
Hou jy van calamari? Dan sal jy dit seker waardeer om te lees van die keer toe Alan 'n lewendige blouring seekat, een van die giftigste kreature in die see, lewend ingesluk het!
Alex die pratende Macaw kom eintlik van Suid-Amerika af. Hy het hom gekoop by 'n troeteldierwinkel in George.
"As gevolg van baie stres wat Alex deurgegaan het, was dit 'n lang leerproses om hom 'maniere' te leer," sê Alan en wys na etlike littekens op sy hande waar Alex hom stukkend gebyt het. (Dis verstaanbaar as jy in ag neem dat 'n Macaw in staat is om 'n neut te kan kraak met sy sterk snawel.)
Die gehawende ou motortjie waarmee hy gereeld parkie toe ry, is eintlik net daar om Alex te vervoer. Hyself is eintlik 'n motorfietsentoesias is as dit by vervoer kom.
Toe ek wegtrek by die Punt, besef ek dat ek vandag 'n man ontmoet wat dit geniet om die gewone grense van menswees gereeld te oorskry.
'If you take any activity, any art, any discipline, any skill and push it as far as it will go, push it beyond where it has ever gone before, push it to the wildest edge of edges, then you force it into the realm of magic.'
(Thomas Robins aangehaal in I touched the moon – p155)
Gooi gerus eendag 'n draai by die akwarium en ontmoet vir Alan.