MOSSELBAAI NUUS - "Julle is kosbaar en spesiaal vir ons." So is die Tagtig Plussers by die NG Moedergemeente in Mosselbaai verwelkom op 'n spesiale tee net vir hulle en hul lewensmaats.
Na twee jaar van covid-inperkings en met die beurtkrag wat tans baie mense se lewens versuur, was dit lekker om 'n bietjie terug te sit en te ontspan.
Die Teedrink-geleentheid het op 22 September in die Klipkerk plaasgevind en die seniors is verras deur die alombekende Riaan Cruywagen wat sy herinneringe op humoristiese wyse met die teenwoordiges gedeel het. Die een kwinkslag na die ander het oor sy lippe gerol en die nostalgie wou-wou net oorneem toe Haas Das se stemmetjie ook opgeklink het.
Daarna was daar liplekker-verversings en lekker gesels. Die oudste lidmaat teenwoordig het op die einste dag 95 jaar oud geword.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'