MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai is slaggereed vir die somervakansieseisoen.
Oudergewoonte het die munisipaliteit 'n seisoenmoniteringskomitee byeengeroep, maar anders as vorige jare is verteenwoordigers van die onderskeie buurtwagte en ander gemeenskapsorganisasies ook vanjaar betrek.
Hierdie komitee kom vir die duur van die seisoen elke weeksdag douvoordag bymekaar om seker te maak dat beide inwoners en vakansiegangers 'n onbelemmerde feesseisoen kan beleef.
Probleme met munisipale dienstelewering kan na die munisipaliteit se SMS-lyn (44802) deurgegee word.
Alle probleme wat op hierdie SMS-lyn ontvang word, word rekenaarmatig vasgelê en deur die onderskeie afdelings hanteer.
Probleemgevalle word by die dienstemoniteringskomitee gelug en, waar nodig, geprioritiseer en op gekoördineerde wyse verseker dat dit aangespreek word.
Tydens die eerste byeenkoms is veral klem op veiligheid gelê en is die versekering gegee dat knelpunte soos die Blue Waters/Diasstrandarea en die Mayixhalestraat/Louis Fouriewegkruising deurgaans gemonitor sal word.
Die hoofde van onder meer Mosselbaai brand- en rampbestuur, Joey Johnston, die munisipale verkeer en wetstoepassing, Henry Williamson, die parke- en rekreasie-afdeling, Abrie Nel en die munisipale regsverteenwoordiger, Douw Steyn, slaggereed tydens die eerste seisoenmoniteringsvergadering op Vrydag, 8 Desember. Foto's: Nickey le Roux
Deur die loop van die jaar vergader die onderskeie munisipale afdelings weekliks op Vrydagoggende om tydens die normale dienstemoniteringskomitee op soortgelyke wyse te versker dat munisipale dienste seepglad verloop.
Beide komitees vergader onder die voorsitterskap van mnr Joubert Coetzee en word onder meer deur die munisipale bestuurder, advokaat Thys Giliomee, direkteure en raadslede van die uitvoerende burgemeesterskomitee bygewoon.
Die publiek se samewerking word gevra om munisipale diensteprobleme tydig te kommunikeer sodat dit so gou as moontlik aangespreek kan word.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'