Maar hoe het dit gebeur dat die rooi Speedo openbare eiendom en Izak se handelsmerk geword het?
‘n Merkbaar ongemaklike Izak het verlede week vir die eerste keer hierdie verhaal met ‘n klomp sakemense van Mosselbaai gedeel toe hy die gasspreker by die plaaslike NOSA afsluitingsfunksie by Dibiki vakansieoord by Hartenbos was.
Volgens hom is hy mal oor dans en sing, maar om as spreker op te tree laat sy keel toetrek en sy hart behoorlik tamboer.
Maar hoe gebeur dit dat ‘n "celeb" soos hy "stage fright" kry?
Izak, wie se album "Vreesloos" baie goed op die treffersparade vaar, vertel dat hy eintlik glad nie iemand vir goggas en rowwe ekskursies is nie. "Ek het net my vrou en tandeborsel nodig om te oorleef en eintlik het ek nooit eers daarvan gedroom om op ‘Survivor’ te wees nie" het hy bygevoeg.
Volgens hom is hy maar ‘n kleinerige outjie wat altyd eerste die kroeg verlaat as daar dalk ‘n geveg uitbreek. Hy soek nie konfrontasie nie, dus het hy geen begeerte gehad om saam met "celebs" en "plebs" op ‘n eiland te gaan bly nie.
Maar sy vrou het kort tevore haar stryd teen skildklierkanker oorwin en sy’t hom aangemoedig om deel te neem. Hyself het ook al met die skadukant van die lewe kennis gemaak nadat sy loopbaan as danser kortgeknip is deur verskeie knie-operasies. Hy het sy vrou destyds in Mosselbaai ontmoet en toe hulle uitvind sy het kanker, is hy voor die keuse gestel of hy saam met haar die MOEILIKE pad wil stap, en of hy gaan hardloop. Hy’t besluit om te bly en vir haar gesondheid te veg.
Met sy knie was dit dieselfde storie en het hy besluit om toneelspel en sang te volg.
Sy vrou het hom ook aangemoedig om die Survivor-program as bemarking te gebruik om sy loopbaan as sanger te bevorder.
"Ek het toe besluit om deel te neem om so ook vir die Here dankie te sê dat hy my vrou genees het en vir my nuwe deure oopgemaak het" het hierdie diep gelowige jongman aan die Advertiser gesê.
"Om te oorleef op ‘Survivor’ moet jy weet hoe om jou instink te volg en jou tydsberekening moet baie goed wees" het hy gesê. Volgens hom het hy aanvanklik gedink hy sal gelukkig wees as hy vyf dae op die eiland oorleef en hy was aangenaam verras dat hy dit vir 23 dae reggekry het. "Ek het die meeste van die tyd my gedagtes en menings vir myself gehou en gesorg dat niemand my as bedreiging sien of ervaar nie. En dit was een van my grootste behoude" het hy bygevoeg.
Maar nou hoe gemaak met die Speedo?
Volgens Izak het hy die Speedo saamgeneem om in die plek van ‘n onderbroek te dra. "Die Speedo is van materiaal wat baie maklik en vinnig droog word sonder om jou te skaaf" het hy vertel en bygevoeg dat hy aanvanklik nooit in die Speedo rondgeloop het nie, maar dit onder sy kortbroek gedra het. Soos die noodlot dit wou hê, het die model en skoonheidskoningin, Cindy Nell, ‘n broek nodig gehad om teen iets uit te klouter.
Haar eie swembroek het nie genoeg beskerming aan haar bobene gebied nie en die vervaardigers het gevra of daar iemand is wat hul broek vir haar sal leen.
En toe trek hierdie oulike en uiters aantreklike jongman letterlik sy broek uit om ‘n dame te help!
En siedaar, daar is die netjies Speedo onder die broek en oral snak kykers na hul asem!
Izak se goeie daad (waarvan niemand eintlik geweet het nie) lei toe tot ‘n nuwe bemarkingsgeleentheid vir hom.
Sy boodskap aan die gehoor was dat ‘n mens situasies waarin jy glo moet aanpak en dat jy die beskikbare hulpmiddele moet aanwend om sukses te behaal. "Wanneer dinge verkeerd loop en die situasies raak onuitstaanbaar, vertrou jou instink en doen dit waarmee jy vertroud is en waarin jy weet jy goed is" het hy bygevoeg.
Elkeen teenwoordig by die funksie het ‘n getekende kopie van Izak se "Vreesloos" ontvang en daarna is daar behoorlik kopstukke oor die spit en bykosse gesels.
Die jonger manne het ook tougestaan om Izak se handtekening te kry - maar nie vir hulself nie - eintlik vir hul meisies! Hier staan Izak (links) by David Kunneke, Derrick Steyn en Van Zyl Krause, almal van Mosselbaai.