Update
MOSSELBAAI NUUS - Die Luna Moon, met skipper David Bird, sy vennoot Wendy Baily, drie bemanning en vier assistente in opleiding, het Donderdag, 3 Augustus, haar laaste draai in die baai van Mosselbaai gemaak voor haar lang tog na Madagaskar.
Die Luna Moon was sedert 28 November 2019 in die Mosselbaai-hawe waar herstelwerk aan die boot gedoen is.
Volgens Bird sou dit aanvanklik net 'n paar dinge gewees het wat hulle wou herstel nadat hulle Mosselbaai hawe verkies het bo die ander hawens om die taak te verrig.
Daar is toe besluit om haar heeltemal oor te doen en volgens Bird is sowat 51 groot vragte (skips) weggery. Sy is oor 'n tydperk van 1 344 dae herstel tot 'n pragskip.
Met haar nuwe baadjie, wat feitlik van bo tot onder oorgedoen is, is sy vir seevaardigheid getoets en met al die nodige permitte het hulle die laaste twee weke net klein goedjie afgehandel. Hulle het nog gewag vir aflewering van 'n fakkel en twee reddingsbootjies.
Verlede week het die wind egter teleurgestel en kon die seile nie gespan word nie. Volgens Bird gaan hul sodra die wind reg is, vyf van die agt seile gebruik om hul bestemming te bereik.
Donderdag, 3 Augustus, is die oorgedoende enjin aangeskakel en het hulle die hawe uitgevaar. Met 'n kort draai in die baai het die Luna Moon Mosselbaai gegroet en in die verte en het sy die oop Indiese Oseaan ingevaar.
Die Luna Moon gaan by haar nuwe tuiste gebruik word vir opleiding. Volg gerus die webwerf Lunamoon.org om meer te lees oor die besondere skip.
Vorige artikels:
Die Luna Moon neem 'n laaste draai in die baai voor haar lang tog na Madagaskar. Foto: Jannie du Plessis
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’