MOSSELBAAI NUUS - Tjaart van der Walt is 'n kliniese sielkundige in die Tuinroete wat skryf oor slaap. Van der Walt laat val die soeklig op dié lewensbelangrike onderwerp in 'n reeks artikels, want niemand kan sonder slaap funksioneer nie.
Motorvoertuigbestuurders is geneig om agter die stuurwiel aan die slaap te raak ná hulle 24 uur of langer nie geslaap het nie. Maar bestuurders, wat gereeld minder as sewe ure per nag slaap, ervaar oomblikke van slaap, oftewel mikro-slapies, wat tussen een en twee sekondes duur.
Gewoonlik is die bestuurder nie eers daarvan bewus nie, maar verloor totale spierbeheer en twee sekondes is net mooi genoeg om onwetend van baan te verwissel, wat noodlottige gevolge kan inhou.
So gepraat van voertuigongelukke. In 'n interessante navorsingstudie is 'n daaglikse 10-minute konsentrasietoets oor 'n periode van 14 dae op vier groepe mense uitgevoer.
Die toets was eenvoudig. Kliek met 'n rekenaarmuis op 'n kolletjie, wat op onvoorspelbare tye en plekke op die skerm verskyn.
Al die deelnemers het begin met een nag van agt-ure slaap en het bykans volpunte behaal. Die eerste groep is toe vir drie dae en nagte wakker gehou.
Drie ander groepe is toegelaat om onderskeidelik vier, ses en agt ure slaap elke nag in te kry vir 14 dae lank.
Die groep wat geen slaap ingekry het nie, se foute het ná die eerste nag met meer as 400% gestyg. Na elke nag sonder slaap het die tendens voortgeduur en die foute het telkens vier maal meer geword.
Die klomp wat net vier ure per nag geslaap het, het na ses dae net so sleg gedoen soos die groep wat een nag niks geslaap het nie. Na elf dae was hul prestasie net so vrot soos dié groep s'n, wat twee dae niks geslaap het nie.
Die groep wat ses ure per nag geslaap het, het nie die verswakking in konsentrasie vrygespring nie en het teen dag tien net so vrot presteer soos die groep wat 'n dag lank geen slaap ingekry het nie. Nadat almal weer drie nagte se goeie slaap ingekry het, kon hulle nog steeds nie dieselfde prestasie behaal soos voor die slaapbeperkings nie.
Daar was twee ander verstommende bevindings. Eerstens het die deelnemers nie gedink dat hulle swak op die konsentrasietoets presteer het nie. Tweedens was die foute wat gemaak is nie net as gevolg van reaksietyd nie, maar as gevolg van géén reaksie nie.
Oë was op die skerm, vinger was op die knoppie, maar die kolletjie is nie gesien nie en die spiere het nie reageer nie. Dit is die mikro-slapies waarna vroeër verwys is. 'n Ander studie met 7000 bestuurders, het gekyk na die verhoging in kanse om in 'n ongeluk betrokke te raak.
Dié wat ses tot sewe ure per nag geslaap het se kanse het met 1.3 keer verhoog teenoor die wat genoeg slaap. Bestuurders wat gereeld tussen vyf en ses ure geslaap het, se kanse het bykans verdubbel terwyl dié wat gereeld vier tot vyf ure geslaap het se kanse vir ongelukke minstens vier keer groter was.
Die kans vir 'n ongeluk was meer as elf keer groter wanneer hulle gewoond was aan minder as vier ure se slaap. Elkeen van ons moet dus onsself die vraag afvra: "Maak my slaapgewoontes van my 'n hoër risiko agter die stuurwiel?"
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’