Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Toe kerke hulle deure tydelik moes toemaak vanweë die nasionale ramptoestand en daaropvolgende inperking, sou min hul kon indink dat gemeentewees in Mosselbaai 'n heel nuwe baadjie sou aantrek.
In vlak 4 van die nasionale inperking, het gelowiges landwyd gedurende die toegelate oefentyd vanaf 06:00-09:00 van die geleentheid gebruik gemaak om die Prayer Walk te begin.
Dié inisiatief het in Mosselbaai ook posgevat. Van die rolspelers het vandeesweek met die Mossel Bay Advertiser gesels oor hulle droom en visie.
Antwoord op gebed
Errol Jansen vertel dat hy van die Prayer Walk op sosiale media gelees het toe dit in Mei vanjaar in Mitchell's Plain begin het. Dadelik het dit met sy vrou. Portai en vriende bespreek en gedink dat Mosselbaai ook so iets kan begin. Nadata hy die water getoets het op sosiale media, is die bal aan die rol gesit. Toe die reaksie gunstig blyk te wees, het hy pastoor Debbie Benjamin, bekende radiopersoonlikheid van Heartbeat FM genader om betrokke te raak. Vir haar, was die inisiatief 'n antwoord op gebed.
Vir twee vroue, beide in die dansbediening, was hulle inskakeliking by die Prayer Walk ook 'n lankgekoesterde droom. "Ons praat seker al vyf jaar hieroor, om saam 'n dansbediening na buite die kerk te neem," verduidelik Gaenor Domingo. Valthea Johnson beaam dit en sê dat die geleentheid spreek van God se perfekte tydsberekening.
Errol verduidelik dat daar tydens byeenkomste shofar (ramshoring) geblaas en gebid word. "Ook die dansbediening speel 'n baie groot rol om 'n atmosfeer van aanbidding te skep," meen past Debbie.
Gelowiges oor grense heen
Stappers in Mosselbaai en Groot-Brakrivier het aan die eerste Prayer Walk deelgeneem en hou steeds daarmee vol, al het kerke reeds toestemming gekry om weer hulle deure vir byeenkomste te open. "Die byeenkomste is nie gebind aan enige kerk nie. Ons is gelowiges oor grense heen wat saamkom elke Sondag," verduidelik past Benjamin. Sy sê dat haar gemeente nog nie sy deure geopen het nie. "Met hierdie inisiatief neem ons in effek die kerk strate toe. Covid-19 het ons dorp se strate ingeneem en ons is besig om dit terug te neem deur gebedsaksie."
Gedurende die afgelope weke se stappery, het die groep verskeie gebedsaksies geloods. Hulle het onder meer by die Da Gamaskop-polisiestasie, asook skole gebid toe dit gesluit is vir ontsmetting nadat daar persone was wat positief getoets het vir Covid-19. Ook het hulle ondersteuning gaan bied aan die familie van Sadiyah Moerat, Kansa se Global Hero of Hope wat in Meimaand oorlede is. Die groep het ook tydens 'n staptog gebid by die huis van Naledi Phandingawo, wat in Junie tydens 'n geslagsgeweld insident vermoor is.
Verlede Sondag, het die groep deur Heiderand gestap en 'n egpaar vertroos wie se ouers aan Covid-19 gesterf het. Die egpaar kon vanweë die huidige reisbeperkings nie die begrafnis bywoon nie. Hierna, het hulle ook 'n gebed gaan doen by die Mosselbaai Mall, waar sommige winkels in die onlangse verlede moes sluit vir ontsmetting vanweë Covid-19.
Kyk 'n video hieronder:
Bly by die reëls
Die koördineerders verduidelik dat hulle vooraf besin oor waarheen die weeklikse staptog sal lei. "Ons is baie gesteld op die handhawing van sosiale afstand en almal wat deelneem, is verplig om 'n masker te dra."
Pastoor Debbie sê dat dit besonder inspirerend is om te sien hoe jongmense deelneem aan die Prayer Walk. "Daar is 'n meisiekind wat haar pa op Vadersdag saamgebring het. Hulle is nog elke staptog sedertdien saam met ons."
Die koördineerders sê dat 'n belangrike fokus tans die jeug is. Hulle beplan om hierdie Sondag, 12 Julie die huis te besoek waar 'n graad 10-leerder van Hillcrest Sekondêre Skool vandeesweek aan selfdood gesterf het.
"Ons wil ons jongmense en kinders salf en die strate ook," sê past Benjamin.
Besonderhede oor die Prayer Walk is op Facebook beskikbaar, maar kontak gerus ook die koordineerders:
• Pastoor Debbie Benjamin - 083 940 2062
• Errol Jansen - 076 856 4042
• Portia Jansen - 072 119 2738
• Gaenor Domingo - 073 913 6871
• Valthea Johnson - 082 930 6691
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'