Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die dertiende Buffalo Rally in Mosselbaai was moontlik ook die laaste wat op die gewilde De Bakke/Santos-woonwapark aangebied sal word.
Die voorsitter van die Nomads Motorcycle Club, Luderick Jacoby het aan die Mossel Bay Home Ads News bevestig dat die klub steeds Mosselbaai as gasheer verkies, maar hoogs waarskynlik die Buff in 2019 elders in die groter Mosselbaai sal aanbied.
Vanjaar het daar net meer as 5 000 motorfietsryers deur die kampterrein se hekke gestroom vir die naweek se opwinding, pret en vermaak. Deelnemers het van sover as Kanada, Brittanje, Uganda en buurstate soos Namibië, Zimbabwe en Botswana gekom.
30ste Buff
Vir vyf deelnemers sal die inskrywingsfooi na volgende byeenkomste geen hoofbrekens besorg nie aangesien elke Buffer wat 30 byeenkomste bywoon, vrygeskeld word daarvan.
Vanjaar het André van Heerden, Philip Koekemoer, Wallie Brandt van die Nomads, Deon Slabbert en Mannetjie Jacobs die mylpaal bereik.
Die omgewing se jongklomp - en talle van die ouer garde - het oudergewoonte die sypaadjies langs die sirkelroete wat die massarit deur die dorp se strate gevolg het, van vroeg reeds op Saterdagoggend volgestaan.
Vanjaar het die uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal en munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee as gaste van die Nomads op die voorste twee motorfietse van onderskeidelik Wallie Brandt en Luderick Jacoby die optog gelei. Oudergewoonte was die skouspel ook nie net tot die massarit beperk nie, maar die gratis toertjies van die Le Riche-broers en die Concourse D'Elegance by die Garden Route Casino het heelwat geleentheid gebied vir menige entoesias om hulle aan die motorfietse en motorfietsryers te verkyk.
Die groot kontantprys van R135 000 is ingepalm deur Gert van Pretoria - wat nie sy van verstrek het nie.
Hy is met sy groot prys, wat ook 'n ruim akkommodasie-borgskap ingesluit het, gelukgewens deur Mej Buff, Charnelle Engelbrecht van Plettenbergbaai. Haar prinsesse is Lorraine Roux en Penny Burger.
Deelnemers en Mosselbaaiers met wie die Mossel Bay Home Ads News gesels het, was dit eens: "Ons sien uit na die Buffalo Rally in Mosselbaai in 2019."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'