MOSSELBAAI NUUS - Ná sowat vyf jaar in die nuwe skoolgebou, het Diaz Primêre Skool uiteindelik sy "nuwe" tuiste amptelik ingewy.
Huidige én voormalige personeel en leerders het op 5 September bymekaargekom vir dié geskiedkundige oomblik.
Die skool het sy deure in 1971 amptelik geopen ná die sluiting van die Lutherse Skool weens die Groepsgebiedewet.
In Oktober 2019 het die skool in die nuwe gebou ingetrek. Weens Covid-19, kon die inwyding egter nie in 2020 gebeur nie.
'n Skattige kinderkoor het sake afgeskop met twee pragtige liedjies gelei deur juffrou Gaynor Gertse. Met blink gesiggies en geel linte in hul hare, kon almal sien dat hulle baie hard geoefen het.
Huidige hoof van Diaz, Genevieve Muller, het op 1 April 2020 vir diens aangemeld as die eerste vroulike skoolhoof by dié skool. As die hoof, is Muller ongetwyfeld trots op Diaz Primêr en alles wat die skool oor die jare bereik het, en nog voortaan sal bereik. Van akademie tot sport, tot die erkenning van personeel by die nasionale onderwysertoekennings, het Diaz presteer.
Tydens hierdie geskiedkundige dag, is daar ook hulde gebring aan vorige hoofde, wat die weg gebaan het vir die skool se huidige sukses. Dit sluit in Granville Briesies, wat saam met ander vorige opvoeders teenwoordig was.
Die skool bied gereeld fondsinsamelings en pret aktiwiteite aan vir beide leerders en personeel, soos 'n rugby- en braaiaand wat op Saterdag, 7 September, plaasgevind het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’