MOSSELBAAI NUUS - 'n Groot getal ouers het Dinsdagaand hulle stemme dik gemaak oor die aanstelling van 'n nuwe hoof by Diaz Primêre Skool. Die skool se personeel was ook teenwoordig.
Die waarnemende hoof sedert die vorige hoof, Granvillie Briesies in 2018 afgetree het, Wesley Moodien, wat ook om die skoolhoofpos aansoek gedoen het, het intussen uit die onderwys getree.
Volgens inligting, het Moodien sy visier daarop om in die buiteland onderwys te gee.
Tydens die vergadering, gelei deur Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van Icosa en plaaslike raadslid, het die hoof van die beheerraad, Geoffrey Gordon gesê dat die beheerraad nie tevrede is met die aanstelling nie.
Hy het nie redes vir hierdie ontevredenheid verstrek nie, maar bloot gesê dat die aanstelling nié die beheerliggaam se eerste keuse was nie en dat hulle dit daarom, verwerp.
Hy het gesê dat die beheerliggaam die saak met die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) gaan opneem en eis dat die pos heradverteer word.
Kamfer het tydens die vergadering, onder toejuiging van die ouers gesê dat die gemeenskap aksie moet neem om hulle misnoeë teen die WKOD se aanstelling te toon.
Van hierdie aksies sluit die ontwrigting van die skool op die eerste dag van die tweede kwartaal in, asook om die leerders tuis te hou.
By navraag het Bronagh Hammond van die WKOD gesê dat volgens Seksie 6 van die Wet op Indiensneming van Onderwysers (1998), aanvaar die hoof van die departement aanbevelings vanaf die beheerraad wat die aanstelling van 'n onderwyser in 'n bepaalde pos betref. Hiervolgens moet die beheerraad ten minste drie kandidate in volgorde van voorkeur lys. Die hoof van die departement kan dan enige van hierdie kandidate aanstel.
"Die WKOD se besluit om die skoolhoof aan te stel is gegrond op verskeie redes. Dit sal betreurenswaardig wees indien die skool ontwrig sou word as gevolg van hierdie aanstelling, aangesien dit die kinders is wat hieronder sal ly.
"Daar is prosesse wat gevolg kan word indien ontevredenheid oor die aanstelling heers, maar dit is duidelik dat die hoof van die departement die reg het om te bepaal watter van die drie kandidate geskik is vir die pos. Om kinders te verhoed om skool toe te gaan, is teen die Grondwet!"
Nagenoeg 200 ouers het die vergadering bygewoon.
Dawid Kamfer, Wes-Kaapse leier van Icosa het as gespreksleier opgetree.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'