MOSSELBAAI NUUS - Graad 1-leerders van Diaz Primêre Skool het Maandag, 7 Oktober, 'n uitstappie onderneem en die matrieks van Hoërskool Sao Bras verras met 'n vooreksamen-geskenk.
'n Spesiale byeenkoms is gehou om die uitdeel van die geskenkies te vergemaklik. Die boodskap het 'n eksamengebed ingesluit ondersteun met woorde ter motivering van personeel én leerders van Diaz.
Die geskenkies bestaan uit 'n sjokolade en 'n kaartjie met 'n kort boodskap vir die graad 12's.
Colten London, oulike graad 1-leerder van Diaz, het die verrigtinge geopen met 'n kort gebed waarna Genevieve Muller, skoolhoof van Diaz, 'n motiveringspraatjie gelewer het om die matrieks verder moed in te praat.
Die graad eentjies het tussen Sao Bras se graad 12's gestaan. Foto: Leigh Meyer
Die idee om 'n spesiale boodskap vir graad 12-leerders voor te berei en om dit met die hand aan hulle te oorhandig, was Diaz onderwyser Elana du Plessis se idee om hul buurskool daarvan bewus te maak dat die leerders van Diaz hulle ondersteun en dat die gebaar as motivering sal dien.
"Diaz Primêr se graad 1's is die weerspieëling van waar Sao Bras se graad 12s, 12 jaar gelede was," het Sao Bras se graad 12-graadhoof, Theno Koert, gesê.
Graad een-onderwysers by Diaz Primêr hoop dat dit die eerste was van wat 'n jaarlikse tradisie sal word.
Die matriekeksamen skop op 21 Oktober af.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’