MOSSELBAAI NUUS - Die Da Gamaskop-polisie maan die publiek opnuut om baie bedag te wees wanneer hulle in die omgewing van Diasstrand, veral op die rotsagtige strandgebied voor Blue Waters rondbeweeg.
Dit volg na dié berugte omgewing opnuut 'n roofslagoffer geëis het.
Op 14 November het 'n inwoner van Boland Park omstreeks 11:30 op die strand gaan hengel toe twee onbekende mans, gewapen met kapmesse hom konfronteer. Die verdagtes het die slagoffer se skoene, rugsak, selfoon, asook hengelgerei geroof en daarmee weggehardloop.
Die verdagtes is volgens inligting tussen 20- en 30-jarige ouderdom, gemiddelde lengte en beide dra hulle hare in 'n afrostyl.
"Ons herinner die publiek om nie alleen in die Diasstrand-area, veral op die strand rond te beweeg of te hengel nie. Maak seker dat jy in 'n groep is," maan kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie.
'n Saak van roof word ondersoek deur ao Marizaan du Plessis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'