MOSSELBAAI NUUS - Oor sowat drie weke kan Mosselbaaiers en besoekers feesvier wanneer die gewilde, gratis Diasfees vanaf 1 tot 4 Februarie plaasvind.
Dié historiese kultuurfees, met die tema, Waar kulture ontmoet, strek oor vier dae en laat die dorp se ryke geskiedenis luisterryk met hope pret en vermaak herleef.
Die fees, wat in sy huidige formaat sedert 3 Februarie 2012 'n belangrike item op die sosiale en ekonomiese kalender van die dorp geword het, ondergaan egter vanjaar 'n belangrike gedaanteverwisseling wanneer die hawe-owerheid en die munisipaliteit kragte saamsnoer.
Herdoop
Die fees is herdoop na die Dias- & Portfees, en die hawe gaan 'n integrale deel van verrigtinge vorm.
Die fees begin met 'n kultuuraand op Donderdag, 1 Februarie, waarna drie dae van feesviering vanaf 2-4 Februarie volg wat onder meer die tradisionele straatparade en verhoogprogram met internasionale sowel as plaaslike kunstenaars, uitstallings en stalletjies, straatparade, biertent, teetuin en 'n verkeidenheid vermaak vir die kinders insluit.
Boonop lok die fees vermaaklikheidskunstenaars van formaat, met Kurt Darren waarskynlik een van die grootste lokpleisters.
Tog gaan optredes deur bekendes soos Jack Parow, Loukmaan Adams, Anlia van Rensburg, Irene-Louise Van Wyk en talle plaaslike bekendes die skares tot laat vasgenael hou by die Santos-feesarena.
Feesgangers kan ook uitsien na die motorsport gymkhana, vlagspronge en meer.
Om alles te kroon is hierdie pret alles heeltemal gratis.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'