Gallery Update
MOSSELBAAI NUUS - Die bekroonde Garden Route Kansa Relay for Life (KRFL) het verlede naweek, 2-3 Maart by die D'Almeida-sportgronde plaasgevind.
Dit was 'n fees van kleur en kostuums met 'n besonderse geur vanjaar danksy die deelname van 'n groep Kaapse Klopse wat die Relay vanuit Mitchell's Plain ondersteun het.
Die kleur, fleur en passie waarmee die Kaapse Klopse die gemeenskap vermaak het, was onteenseglik. "Hulle ken beslis van sing en voete wissel met fyn treetjies. Die musikante in die orkes is gedissiplineerd en speel tradisionele, sowel as moderne wysies wat die luisteraars laat saam- of saamdans het. Mosselbaaiers het beslis ervaar hoe tweede Nuwejaar voel," het programleier Claire du Plessis na afloop van die Relay te sê gehad.
Nie minder nie as 30 spanne het vanjaar deelgeneem, met nog 'n klomp ander stappers wat as individue die Relay ondersteun het. Tydens die rondte vir kinders, het Juan Maree van die Kartel Exchange die jongklomp met sy motorfiets om die baan begelei. Die kinders was so vuur en vlam dat hulle sommer beginne hardloop het.
Die ingesamelde bedrag beloop aldus die voorsitter van die Garden Route RFL 'n allemintige R 348 000. Spanne wat die meeste geld ingesamel het is Nativity (R74 210), Stoepsitters (R45 565), NAC (R29 927.70), VGK (R19 465) en Team Beat It (R19 235).
Fatiema Petersen, bekende Taliep Petersen se dogter se sang was 'n Relay-hoogtepunt. Ander kunstenaars wat tydens die geleentheid opgetree het om die deurnagstappers aan die gang te hou is Dynamic Dance Academy, Erika Primere Skool se rieldansers, Nativity Band, die TS Outeniqua Seekadette, plaaslike skrywer Chileab Bruintjies, LGH Band, sangers Edinia Grootboom en Melvin Damons, asook Trevor Johnson en Clayton James. Eden FM het 'n regstreekse uitsending vanaf die sportgronde gedoen.
Die Kaapse Klopse was 'n treffer. Foto's: Cornelle Carstens
Lees 'n vorige artikel hier: Deurnagstaptog vanjaar feesteliker as ooit
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'