Gallery
KLEIN-BRAKRIVIER NUUS - Een van Klein-Brakrivier se bekendste inwoners, Francois Malan (76), is Sondag oorlede. Francois was die kleinseun van CB Malan wat sedert 1900 in Klein-Brakrivier kom kamp het en na wie Malanstraat vernoem is.
Hy is dus die derde generasie van Malans wat in Klein-Brakrivier 'n tuiste gevind het en het as inwoner die langste verbintenis met Klein Brak gehad.
FOTOGALERY: Klein-Brakrivier se bekendste inwoners, die Malans
Francois is in Januarie 1946 in die Strooidak-kerk op Klein Brak gedoop en in 1970 in dieselfde kerk met Betsie Schoeman getroud. Beide sy ouers, Gerard en Tilly Malan, is in die Klein Brak-begraafplaas, begrawe. Francois en Betsie het 'n paar jaar gelede permanent op Klein Brak kom bly in die familiehuis, wat sedert 1934 in hul besit is.
Francois was bekend vir sy toetsing van self-ontwerpte skeertuie (hovercrafts) op Klein Brak. Hy was betrokke by verskeie navorsingsprojekte rondom die geskiedenis van Klein Brak en die Malan-familie.
Francois word oorleef deur sy vrou Betsie, dogters Lizanne, Rozelle en Fransette, skoonseuns en ses klein kinders. Hy word ook oorleef deur sy enigste oorlewende broer, Atties Malan (90). 'n Gedenkdiens word vandag, Vrydag 26 Augustus, om 12:00 in die Strooidak-kerk in Klein-Brakrivier vir hom gehou.
Francois Malan by die F-16 skeertuig waarmee hy 'n wêreldrekord by Verneukpan opgestel het.
Francois saam met sy broers en suster, tydens sy ouers se goue bruilof in 1977. Van links: Johan, Christo, Francois, Rosemarie, Atties, en Gerard 2.
'Ons bring jou die nuutste Klein-Brakrivier, Tuinroete nuus'