MOSSELBAAI NUUS - Ná motoriste mekaar gisteroggend, 21 Maart, op sosiale media groepe gewaarsku het oor nat teer op die R327-pad vanaf die N2 in die rigting van Herbertsdale, het die departement van infrastruktuur verduidelik wat hiér gebeur het.
Woordvoerder vir die departement, Jandré Bakker, sê dit is ‘n herseël wat namens die departement onderneem word.
Bakker sê die stuk is Donderdag om 15:00 klaar geseël en daar is oor die nat seël gery om seker te maak dat dit reg is vir verkeer voor die langnaweek.
“Dit het geen probleme gegee nie en daar is besluit om die pad oop te maak.”
Hy sê dit blyk egter dat die reën van die twee dae egter die nat seël negatief beïnvloed het omdat dit onder verkeer oopgemaak is.
“Dit blyk verder slegs die deel te wees wat Donderdag geseël is wat problematies was. Die seksies wat die vorige dae gedoen is, gee geen probleme nie.
“Die oomblik wat die probleem aangemeld is, het ons ‘n span geaktiveer om die geaffekteerde seksie toe te maak onder verkeersakkommodasie (stop/ry). Motors wat deur die betrokke seël is voor ons toegemaak het, se bande is ook skoongemaak toe die span op perseel gekom het,” sê Bakker.
Probleme op paaie onder provinsiale beheer (nie munisipaal of SANRAL) kan op WhatsApp by 083 310 5357 aangemeld word, waarna dit na die betrokke onderhoudsentiteit verwys sal word.
Bakker sê die situasie kon vinniger aangespreek geword het indien die departement vroeër van die probleem in kennis gestel is.
“Hoewel ons probeer om soveel moontlike media- en gemeenskapsgroepe op sosiale media te volg, is dit altyd vinniger om direk van die probleem te hoor.
“Die departement bedank padgebruikers vir hul aktiewe burgery deur ekstra oë te wees op ons padnetwerk. Hier wil ons veral aktiewe landbouverenigings bedank wat probleme op veral landelike paaie aanmeld.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’