MOSSELBAAI NUUS - 'n Boom is een van die natuur se krag-tigste elemente. Dit bied nie net skuiling, beskerming, skadu en dikwels ook kos nie, dit verryk die omgewing, gee suurstof en verfraai ook die landskap.
Tomas van Kleinbrak, soos die skrywer, Thomas Campher homself in sy boek noem, bied ook nes 'n boom skuiling en genesing aan menige afvlerk-mense asook verlore en verdwaalde siele.
Sy boek: Deel vanaand my boom is 'n weerklank van hoop, pyn, swaarkry en vreugde. Die lewe het hom baie strepe getrek, maar hy het teruggebons en daarmee saam baie mense se lewens aangeraak en verryk en so ook 'n bydrae van onskatbare waarde aan die gemeenskap gelewer. Nie net op geestelike en gesondheidsvlak nie, maar ook op die vlak van die Afrikaanse letterkunde.
Bekendstelling
Tydens die bekendsteling van die tweede oplaag van die boek op Saterdag, 18 Februarie by Art@39long in Groot-Brakrivier het bykans 70 uitsoekgaste in die tuin onder die bome en struike bymekaar gekom en Tomas se lewe gevier.
Elkeen teenwoordig het een of ander storie om te deel oor die pad wat hulle met Tomas gestap het.
So tussen die sjampanje en oesters, wyn en versnapperings asook koffie en soetgoedjies het die trane van hartseer en vreugde gevloei en het elkeen met sy eie gedagtes gesit.
Gedagtes van dankbaarheid, verwesenheid, pyn, genade, dankbaarheid en liefde vir hierdie sonderlinge mens wat almal onder sy boom verwelkom en nuwe hoop bied.
Karin Noeline Richie, 'n traumaterapeut van Sedgefield het vertel hoe hulle twee ontmoet het en die impak van hierdie ontmoeting op hul albei se lewens.
Sy het Tomas van geen kant af geken nie toe sy hom sien loop en sommer spontaan van agter af by hom ingehaak het. Dit was die begin van 'n uiters vervullende vriendskap.
Al die woorde is ook met besonderse musiek gemeng. Marius Erlank het die mooiste klanke op die klavier opgetower en Petronel Baard het die hartsnare met haar sang geroer. Sy het ook haar jongste treffer Sterredakheelal onder luide applous gesing.
Een van die hoogtepunte was Janke Mofokeng van Qwaqwa se huldeblyk aan Thomas. Hul paaie het in 1992 gekruis toe Janke 11 jaar oud was. Thomas het hom onder sy vlerk geneem en na matriek het hy hom as kroegman by die Blue Crane Restaurant opgelei.
Janke het homself opgewerk en verskeie kroeë geopen en later ook streekbestuurder van Wimpy geword. Vandag help hy mense met die aanbied van taalkursusse. Uit waardering vir wat Tomas in sy lewe beteken het, het hy aan hom 'n beker met die woorde "Ek is lief vir jou" in al 11 amptelike tale oorhandig. Die interaksie tussen die twee was tasbaar en het gespreek van die onuitgesproke liefde tussen hulle.
Verbintenis
Van die gaste wat hul spesiale verbintenis met Tomas uitgelig het was Hermien Grobelaar van Riverside wat vertel het van die invloed van die gedigte op haar lewe; Irene Hartzenberg van Wolwedans wie se lewe met Tomas sin vervleg geraak het en Michael Bothma van Klein-Brakriver wat by Tomas aangeklop het om sy motor te was en wat toe in 'n heel nuwe rigting gestuur is.
Al die woorde is ook met besonderse musiek gemeng. Marius Erlank het die mooiste klanke op die klavier opgetower en Petronel Baard het die hartsnare gestreel met haar sang.
Nog 'n hoogtepunt was Tomas se voordrag van Wanneer hou die dinge op/Skipskop en Petronel se vertolking van Skipskop wat hoendervel mooi was. Petronel het ook een van Tomas se gedigte, Bo Alles getoonset en uitgevoer.
*Thomas Campher, filosoof-skrywer, onderwyser, dosent, vakadviseur, eksaminator en skoolhoof het as adjunkdirekteur van Nasionale Beroeps-onderwys sy formele onderwysloopbaan in 1995 weens gesondsheidsredes kort geknip.
Sy bundel is 'n versameling gedigte wat verhalend afspeel rondom April tot Oktober 2014 in 'n tyd wat vigs 'n geweldige impak op sy lewe gehad het. (Uittreksel uit die boek)
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'