Die De Jager-kinders was die slagoffers van 'n tragiese gesinsmoord, wat op Sondag, 19 Augustus in New Sunnyside plaasgevind het.
Skoolmaats van die twee kinders, beide leerders van All Saints EK Primêre Skool, het 'n erewag gevorm buite die All Saints Anglikaanse-kerk vir die kis waarin die kinders saam begrawe is.
Terwyl die All Saints-brigade, waaraan Sharmill ook 'n tyd lank behoort het, gewyde musiek gespeel het, het verskeie van die kinders se beste maats opgetree as draers.
In 'n laaste eerbetoon, was hulle geklee in eenderse T-hempies waarop 'n foto van die kinders saam met hulle ma, Shamia, gedruk is. Deur die loop van die begrafnisdiens, waargeneem deur Ven Isaac Josephs, was die snikke van veral skoolmaats gereeld hoorbaar.
'n Dapper Thamelin Mei, Robyn Broekstein en Dealan James het kinderlike gediggies aan hulle twee maats voorgehou, maar toe Astrid Thomas, die kinders se peetma, 'n groet namens hulle aan hulle ma, Shamia, voorgelees het, het die roubeklaers se trane vrylik gevloei.
Tydens sy huldeblyk aan die twee kinders, het mnr Steenberg, skoolhoof van All Saints Primêr, 'n paar keer die emosie-belaaide atmosfeer gelig deur 'n kostelike staaltjie van elke kind uit hulle kleuterskooldae te vertel. Melissa was glo vasberade om na afloop van haar voorskoolse onderrig by King's Kids-kleuterskool, direk na Sao Bras Hoërskool te gaan.
Sharmill het weer glo sy eie weergawe van die landslied gehad en gesing: 'Nkosi Sikilel' iAfrika, Mamma bak 'n vetkoek en Pappa sê 'ja'!'. Verder het hy vertel dat Melissa saggeaard en stillerig was. Sharmill was weer vol grappe en het nie geskroom om sy skoolmaats tereg te wys as hulle swak taal gebruik het nie.
"Ons is hartseer, maar treur nie soos mense sonder hoop nie," het hy afgesluit.
Ven Isaac Josephs het tydens sy troosboodskap na die omstandighede verwys as die ruïnes van 'n verbrokkelde lewe.
Hy het die familie daarmee bemoedig dat dié wat op die Here vertrou nuwe krag sal kry, veral met verwysing na die alleenheid wat die kinders se ma in die gesig staar na die verlies van beide haar kinders. Verder het hy gemaan dat die les te leer uit die tragiese gebeure is dat kinders ten alle koste beskerm en bewaar moet word.
Minstens sewe groepe draers het deelgeneem om die twee kinders te besorg by hulle laaste aardse rusplek - 'n toonbeeld van 'n gemeenskap getref deur 'n tragiese verlies.

Skoolmaats van Sharmill wat ook die begrafnis bygewoon het.