Video
MOSSELBAAI NUUS - ‘n Meisie van Kaapstad, Anita Bekker het vir die tydperk van die nasionale inperking by haar ouma en oupa op Danabaai kom kuier.
Anita se pappa en mamma moet beide tydens die inperking werk en daarom het ouma, en Danabaaier Hannetjie Gawler voorgestel dat Anita by hulle die tyd spandeer. “Ons het gedink dit sal ongeveer twee weke duur.
Twee weke het twee maande geword en gaan teen die einde Junie, drie maande wees,” vertel Hannetjie. Intussen het Anita op 28 Mei haar 12de verjaarsdag gevier en die Danabaaiers het dit vir haar ekstra spesiaal gemaak, juis omdat sy dit sonder haar ouers of haar maats moes vier.
“Die wonderlike mense van Danabaai het die dag baie spesiaal gemaak vir haar. Wildvreemde mense het in ons inrypad gestop en vir haar gesing en sommiges het tot geskenke saamgebring. Boonop het Anita ook ‘n sokkerbal gekry en skop sy die bal soos n professionele sokkerspeler,” sê Hannetjie.
Sy sê Anita het tot dusver gebak- en brou, tuinwerk gedoen, geleer hoe om naaldwerk te doen en om koeke te versier. “Ons dierbare bure, Danie en Levina Naude het selfs vir Anita ‘n skattejag beplan en sy het klomp klein geskenkies gekry.” Hannetjie bedank elke Danabaaier wat Anita se dag vir haar spesiaal gemaak het en sê: “Ons Mosselbaaiers kan reuse verskille maak in ander se lewens.”
Kyk 'n verskafde video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'