MOSSELBAAI NUUS - Danabaaiers het onlangs weer geleentheid gehad om eerstehands terugvoering van die munisipaliteit se uitvoerende bestuur te ontvang oor kwessies wat hulle na aan die hart lê.
Gelei deur wyksraadslid Marie de Klerk, wat deur die Danabaai-wykskomitee bygestaan is, het sowat 120 inwoners verneem dat werk aan die alternatiewe toegang vir Danabaai vorder, hoewel dit nie binne die volgende twee tot drie jaar voltooi sal wees nie.
Die munisipale direkteur vir beplanning en geïntegreerde dienste, Carel Venter, sê aanvoorwerk, wat onder meer onderhandelinge met grondeienaars insluit, word tans gedoen.
Venter het benadruk dat Danabaaiers se voorkeuropsie; die verlenging van Floraweg om by die Herbertsdale-aansluiting by die N2 aan te sluit deur die munisipaliteit ondersteun word. Die tweede opsie; 'n roete wat agter die perseel van korrektiewe dienste by Casinoweg sal aansluit word ook oorweeg. Hierdie tweede opsie dien steeds as 'n nooduitgang sou die gebruiklike toegang na Danabaai om welke rede ookal ontoeganklik wees.
Die direkteur van tegniese dienste, Dick Naidoo het deur middel van 'n skematiese voorstelling 'n breedvoerige verduideliking gegee waarom Danabaai telkens geraak word wanneer beurtkrag ter sprake is.
Inwoners het 'n breedvoerige voorligting oor die voorgestelde begrotingsaanpassings van die adjunk-tesourier, Hennie le Roux gekry en ruim geleentheid vir vrae is goed benut. Die munisipaliteit het gevra dat enige insette ten opsigte van die voorgestelde aanpassings voor Vrydag, 3 Mei die munisipaliteit moet bereik.
Die hoof van wetstoepassing het goeie insette gegee oor die munisipale bywet oor die beheer van honde en oor die beheer van munisipale oorlaste. Hy het ook daarop gewys dat deeglike studies wysigings aan spoedbeperkings in woonbuurte moet voorafgaan. Hy het na die samedromming by die toegang na Danabaai verwys en 'n beroep Danabaaiers gedoen om nie werkers by die verkeerskruising op te laai nie. Inwoners wou insae hê in die noodplan wat skynbaar vir Danabaai beskikbaar is. Die stasiebevelvoerder van die Mosselbaai brand- en rampbestuursdiens, Ann Supra-Virtue het die versekering gegee dat die nodige, breedvoerige beplanning vir enige gebeurlikheid bestaan en toegepas sal word na gelang omstandighede.
Namens die KwaNonqaba-polisie het die skofbevelvoerder, sers Norman Cupido 'n oorsig van misdaadtendense gegee en gemaan dat inwoners groter verantwoordelikheid vir hul en hul eiendom se veiligheid moet neem. Hy het gesê diefstal vanuit motorvoertuie en inbrake neem veral toe in die area. Danabaaiers is ook geleentheid gegee om hul mening te lug oor die aansoek om die hernuwing van die Southern Cape Fish Meal se lug-emmissielisensie. Die Danabaai-wykskomitee is 'n geregistreerde belanghebbende en het onderneem om namens die inwoners insette in die impak-analise wat tans gedoen word, te lewer.
'n Groot groep verteenwoordigers van die Mosselbaai-munisipaliteit en SAPD het onlangs met Danabaaiers vergader.Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'