DANABAAI NUUS - "Ek wil nie meer Skadumeisie wees nie - ek baklei nou vir Anita, kry haar lief en gee haar 'n kans op lewe."
'n Danabaai-inwoner, Anita Venter van Niekerk (48), is deur van die diepste, donkerste lewenservarings wat jy jou kan indink, maar deur die skryf van haar boek, Skadumeisie, het sy bevryding en 'n vorm van genesing gevind.
Dié boek is 'n rou, eerlike en diep aangrypende getuienis van waardeur sy as vrou is, maar ook van die lig wat daar is om te vind.
Sy is as kind op 'n Vrystaatse plaas mishandel, sy het op 'n jong ouderdom 'n wreedaardige verkragting oorleef, en as volwassene was daar uitdagings soos verslawing, selfvernietigende gedrag en die dood in die oë staar.
Anita het in Ladybrand grootgeword en ook al in Bela-Bela en Middelburg gewoon. Danabaai is nou al sowat 'n jaar lank haar tuiste. Hier werk sy tans as 'n senior boekhouer in die dorp. Skadumeisie is die eerste boek uit haar pen, hoewel sy sê daar reeds 'n tweede een op pad is!
Sy het Skadumeisie twee jaar gelede begin skryf, "en vier maande gelede die laaste woorde", vertel sy. Die vermoë om haar trauma in woorde op papier te omskryf het eers ná 15 jaar se terapie en nadat sy 'n volslae alkoholis was, gekom.
"As mens wegstap ná jy Skadumeisie gelees het, kan jy amper nie glo hoeveel impak trauma op 'n mens se liggaam kan hê nie, veral as jy nie daaroor praat nie. En elke vrou wat hom lees sien iets van hulself daarin, en kry 'n boodskap van hoop."
Verder is Anita 'n ma van twee, ouma van drie, hardwerkend, en iemand waarop jy kan staatmaak, sê sy. "My kinders en my man is my krukke."
Sou jy in die boek belangstel of die skrywer wou ontmoet, is daar op 29 September van 10:00 tot 12:00 'n geleentheid by Searle's Manor by Blandstraat 64. Penguin Random House sal daar wees, en Anita sal ook 'n motiveringspraatjie lewer.
Vir enige navrae of om te bespreek, kontak 082 512 1490.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’