MOSSEBAAI NUUS - ‘n 49-jarige vrou van Danabaai het vanoggend vlugtig in die Mosselbaai Landdroshof verskyn omdat sy na bewering verskeie skote met ‘n wapen (*) op vier kontrakwerkers van die Mosselbaai-munisipaliteit geskiet het.
Die voorval het volgens die polisie op 15 Oktober om 16:00 in E Luteastraat plaasgevind. Polisiewoordvoerder, Sersant Kappie Kapp sê volgens die klaers het hulle verby die woning gestap nadat hulle strate skoongemaak het.
“Hulle beweer hulle was op pad huis toe. Die verdagte het vir hulle gevra wat hulle daar soek. Hulle het haar nie geantwoord nie, waarna sy in die huis ingegaan en uitgekom het met ‘n wapen. Die vrou het vyf skote op die werkers geskiet. Hulle het gevlug en later ‘n saak teen haar aanhangig gemaak.”
Die verdagte is die naweek in die Da Gamaskop-aanhoudingselle aangehou. Sy het vanoggend in die hof verskyn op ‘n aanklag van poging tot moord en ‘n aanklag van die rig van ‘n vuurwapen. Kapp sê die saak is na 17 November uitgestel vir verdere ondersoek. “Die verdagte sal op daardie dag op dieselfde aanklagte teen haar verskyn.”
Hy sê die saak is in ‘n vroeë stadium van die ondersoek. “Die wapen is deel van die ondersoek.”
Die polisie sê indien die klaers sou glo dat daar met ‘n vuurwapen op hulle geskiet is, dit ‘n saak van poging tot moord regverdig. “Die klaers het geglo dat dit ‘n regte vuurwapen was, daarom het hulle gevlug. Die verdagte se optrede, om op hulle te skiet, of dit nou met ‘n ‘paintball gun, of ‘n pellet gun’ is, regverdig ‘n aanklag van poging tot moord.”
“Al was dit ‘n speelgoedwapen wat deur die klaers as ‘n vuurwapen geag is, regverdig dit steeds ‘n aanklag van poging tot moord. Die verdagte het egter nou die geleentheid om die teendeel vir die hof te bewys. Soos die ondersoek ontvou, kan die aanklagte teen haar verander word.”
Bevestiging kon nie verkry word watter soort wapen die verdagte gebruik het nie. Die verdagte se identiteit is aan die Mossel Bay Advertiser bekend. Dit sal vir eers nie bekend gemaak word nie, hangende die uitslag van die ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'