Daar sal na verwagting ook binnekort met herstelwerk aan die ablusieblokke by Nooitgedachtlaan (Hartenbos/Bayview) begin word.
Danabaaiers het die afgelope naweek bekommerd reageer op die toestande by die area se twee strande. Gety-aksie het die duin by Eerstestrand veral uitgekalf en die geplaveide loopvlak is in die proses beskadig.
Die tydelike plastiekversperring en waarskuwingsborde, wat bedoel was om die publiek te maan teen die gevaarlike toestande, het boonop in die slag gebly.
Op Eerstestrand het reste van randstene, plaveisel en selfs 'n lamppaal op die strand gelê, getuies van hewige branderaksie wat voor die voet maai. Net soos op Eerstestrand, is toegang na die strand via die trappe by Tweedestrand onmoontlik. Fikse jongmense kan straks nog die afstand van die laaste trappie af tot op die strand spring, maar ouer mense kan beslis nie met die trappe te-rugklim na bo nie.
Tydens die Mossel Bay Advertiser se besoek op Sondag, 30 September aan die twee strande het heelwat besoekers die strande besoek en bekommerd reageer op die toestand van die parkeerareas en trappe by die strande.
Volgens die munisipale woordvoerder, mnr Harry Hil, het die munisipaliteit in die 2012/2013 en 2013/2014 finansiële jare begroot vir die rehabilitasie aan die twee strandareas.
Hy bevestig ook dat die projekte deel vorm van die munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) en begrotings. Die gemeenskap het die toestand van die strande op die jaarlikse GOP vergadering op 3 September met die wykskomitee opgeneem.
Mnr Hill berig die munisipaliteit is gretig om met die rehabilitasie te begin. "Die probleem by Danabaai is dat die see- en duintoestande daar, van so 'n aard is dat herstelwerk dikwels nie lank hou nie.
Die konstruksiewerk wat nou gedoen moet word, is van 'n redelike ingrypende a
ard sodat omgewingsimpakstudies wel nodig was. Die Munisipaliteit kan nie landswette in die verband verontagsaam nie. Daar was geen ander relevante of geldige omgewingsgoedkeurings waarop in hierdie geval staat gemaak kon word nie.
"Munisipale personeel het hierdie week weer die gebied beveilig deur versperrings en waarskuwingborde te plaas waar nodig. Die trap sal moontlik verskuif moet word na waar daar 'n rotsbasis is aangesien die sand ongelukkig gereeld weggekalwer word afhangende van getye.
Skade weens stygende seevlakke en sterk gety-aksie kom ongelukkig nie net in Danabaai voor nie, maar ook by ander strande en woonbuurte aan die Mosselbaaise kus". Raadslid Flip du Plessis het gesê hy is verheug oor die goedkeuring en het veral mnr Pieter Myburgh, die stadsinginieur geloof vir sy afdeling se flinke optrede om die versperrings by Tweedestrand aan te bring. Hy het gesê as alles volgens plan verloop, sal die werk teen Februarie 2013 voltooi wees.
Hy het die besluit deur die munisipaliteit om meer nougeset te let op die toestand van die strande, verwelkom.

Versperrings is hierdie week opgerig om vakansiegangers teen die gevaarlike verweer by Danabaai se Tweedestrand te beskerm.
ARTIKEL EN FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS