DANABAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit gaan onderhandelinge met die nasionale departement van openbare werke begin vir die koop óf huur van ’n erf ter waarde van R9 720 000 vir die ontwikkeling van ’n gemeenskapspark in Danabaai.
Erf 5737 is in Floraweg geleë, langs die OK Grocer, en is 4,8901 hektaar van hoofsaaklik onontwikkelde fynbos en ’n informele parkeerarea.
’n Raadsitem hieroor het in die mees onlangse ope raadsvergadering op 29 Mei gedien. Twee uit die ses partye in die raad is teen hierdie ontwikkeling.
Volgens die item kan die park verskeie gebruike hê. Dit sluit in: parkering vir ontspanning- en besigheidsgebruik, ’n informele handelsarea, ’n entrepreneursmark, ’n speelpark, ’n buitelug gimnasium, uitkykpunte, fietsry- en staproetes, ontspanningsfasiliteite, en meer.
Volgens die item sal die ontwikkeling van die park in fases moet gebeur en die munisipaliteit sal daarvoor moet begroot. Die ontwikkeling sal na verwagting sowat R5 400 000 kos.
Die geskatte koste, volgens die raadsitem.
Gegewe die behoeftes in ander dele van die dorp, het sommige opposisiepartye die projek en gepaardgaande koste daarvan bevraagteken en gevra of dit geregverdig is. Beide die ANC en PA het weens hierdie redes teen die item gestem.
Die ACDP het ook genoem dat daar voorheen sprake van ’n skool op daardie erf was en gevra of hierdie stryd gewonne gegee is. Volgens die item is erf 5737 vir opvoedkundige doeleindes gesoneer en met dit in gedagte het die munisipaliteit openbare werke gekontak om die toekomstige ontwikkeling van ’n skool op hierdie perseel te bevestig al dan nie.
“Die departement kon dit nie bevestig nie en het aangedui dat, indien die munisipaliteit belangstel om hierdie grond te bekom, die nodige aansoekprosesse formeel by die departement ingedien moet word om die eiendom te koop of te huur,” lui die item.
Die raadslid vir wyk 11 (wat Danabaai insluit), Nickey le Roux, het gesê Danabaai is een van die grootste woondele in Mosselbaai en brei steeds uit, maar het nie die nodige dienste vir die hoeveelheid mense wat daar is nie.
Dit sluit in ’n gebrek aan ’n biblioteek, ’n skool, genoegsame parkering en daarmeesaam, die geleentheid vir ekonomiese groei. Sy het ook genoem daar is ander erwe beskikbaar vir skole.
Die VF Plus het gesê daar is geen manier hoe hulle teen ’n projek soos hierdie kan gaan nie, aangesien dit in die behoeftes van kinders voorsien. Hulle meen dit is juis weens ’n gebrek aan sulke fasiliteite dat kinders hulle met onwettighede besig hou.
Die ACDP en die VF Plus was ten gunste van die ontwikkeling.
Die munisipale bestuurder, wat die magtiging het om hierdie onderhandelinge met openbare werke te behartig, sal na afloop daarvan terugvoer aan die raad verskaf.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’